Rufus Begin Vertel
Rufus Baron von Wufus |

|
Lydia von Wielligh 1938
Memoirs van Rufus deel twee
Memoirs van Rufus Deel drie.
Die Memoirs
van ‘n veelgerese,welbelese en veelgeprese WORSHOND.
Deur Rufus Baron
von Wufus Maart 2004
Kliek vir GROOT |

|
Blomme oor die grafies van Ma Plesier en Rufus |
En
vandag vrydag 3 September 2010 09:55 a.m. Ontvang die volgende
pragtige fotos met die boodskap - (wie het gesé - honde het nie siele nie). Sien hul herhinderinge ver en wyd.
"By ons is dit nou lente, kyk
hoe lyk Lydia se tuin. Miskien is die grond so dankbaar omdat ons al 'n paar van ons lieflike, oorlede honde (Rufus
en Plesier) daar begrawe het".
Kliek vir GROOT |

|
Blommetjies van Herhinderinge |
Voor Die Begin
Al ooit gehoor van ‘n hond
wat ‘n boek oor sy lewe geskryf het? Nie! Dan is dit hoog tyd – tye het verander. Was ‘n hond nie die eerste
ruimtevaarder lank voor mense dit aangedurf het nie? Hier dink ek nou aan kameraad Laika van die Sowjet-Unie wat meer as driehonderd
hondejare (dis nou amper vyftig mensjare) gelede in Sputnik 2 die ruimte verken het. Soos my vriendin uit Oostenryk, Hemma
von Hundstorf, die anderdag in ‘n e-pos aan my skryf (sy is ‘n bietjie van ‘n aktivis):
Te lank is ons soos honde behandel. Dis tyd dat ons ons regmatige
plek in die Wêreld inneem en nie meer tevrede is met die krummels wat van die tafel af val nie. Wie sorg vir
mense se veiligheid, wie vang die skelms, wie help blinde en ander gestremde mense, wie vaar die
ruimte in, op wie toets hulle medisyne en voer hulle operasies uit voor dit op mense getoets word, ek vra jou wie? Ek hoor
daar by julle is ‘n gesegde “so ‘n ondankbare hond!” Verregaande! Ons is dan juis vir alles dankbaar!
Hemma by haar rekenaar |

|
Hemma by haar rekenaar |
Kan ek myself dus
voorstel? Ek is Rufus, ‘n Worshond van adelike afkoms, edele inbors en voortreflike voorkoms. Ek is in die vorige millenium
gebore en is nou amper 100 mensjare oud. Ek bly nog my hele lewe by Nic en Lydia von Wielligh wat ek sommer
Oupa en Ouma noem, nes hulle kleinkinders.
Ek is nou wel ‘n hond maar ek kan dink en en ek kan droom, ek kyk TV, ek word hartseer, ek kan blydskap
ervaar, ek kan kwaad word en stres en boweal kan ek baie liefde gee. As ek nou ‘n mens was, sou hulle gesê het
ek het ‘n siel maar omdat ek maar net ‘n hond is, het ek kwansuis nie so iets nie. Dit pla
my nie juis nie want ek weet wat ek weet. Noem dit dan maar ‘n persoonlikheid.
Maar wat ek tog graag sal wil weet,
waar was hierdie siel of persoonlikheid van my voordat ek gebore is? Of was daar nie so ‘n siel nie? Ek dink baie oor
sulke goed as die mense dink ek lê en slaap – soos ek sal toegee die meeste ander honde maar net doen, veral my
neef Boela - ‘n dubbeldekkerbus vol krassende kraaie sal hom nie wakker maak nie. En wat word van my siel as ek eendag
doodgaan? Mense wie se saak met die Here reg is, gaan hemel toe maar wat van ons honde, ons het dan nie “siele”
nie? Maar gee ons nie baie meer liefde en vergewe ons mense wat ons slaan en mishandel nie makliker as
wat die meeste mense doen nie? Ek hoor die anderdag van iemand wat sê dat as daar nie honde in die hemel is nie, wil
hy na die plek toe gaan waar die honde heen gaan! Terloops, Ouma glo vas dat sy eendag in die Hemel die honde gaan oppas –
ek sal baie bly wees!
As ek nou ‘n mens was sou hulle sê ek filosofeer maar in my lang lewe het ek oor baie dinge gedink en ook
baie dinge belewe, meer as baie mense, wat nog te sê honde. Miskien sal jy belangstel om ‘n bietjie daarvan te
hoor, al is dit nou ‘n hondestorie, so ek begin maar by die begin.
Ma Katryn |

|
Aan Die Begin My Hondefamilie Dit het alles begin op ‘n Sondagmiddag in Februarie 1900 bo-op Ouma-hulle
se ou yster en koper bed (wat hulle ou Barberton noem) toe ek en my Boetie Plesier en
nog twee ander gebore is. Daar was selfs ‘n mensdokter by om vir Ma Katryn by te staan
– dr Kobie – maar dit was nie nodig nie, Ma Katryn het vanself geweet hoe om alles te hanteer. My Pa het ek ongelukkig
nooit ontmoet nie maar hy was blykbaar ‘n baie mooi hond. Sy naam was Blondin (en nog iets wat ek nie
kan onthou nie) maar die mense het hom sommer Blompot genoem, ook maar goed so want wie wil nou blondin
vir ‘n Pa hê!
Dit is nou ongelukkig so dat ‘n mens maar baie min onthou van die
dae toe jy nog baie klein was. Om die waarheid te sê, ek was maar omtrent 200 g toe ek gebore is. Wat
ek wel onthou toe ek nou ‘n bietjie groter was, is lui-lekker vreedsame, sonskyndae sonder veel opwinding
saam met my familie – my Ma Katryn en al my baie Worshond boeties en sussies. Hulle het gekom en gegaan,
party het maar kort by ons gebly en dan het mense hulle kom haal. Maar ander soos ou Boetie Plesier en Sussie
Griet was te mooi vir Ouma om hulle te verkoop en hulle het – dankie tog – gebly.
As daar
ooit ‘n “Lady “ was dan was dit Ma Katryn – statig, bedaard en vol wysheid. Bewaar jou
siel as jy jou te buite gegaan het, sy het die nonsens net daar gestop! Nogtans het sy ‘n liewe en sagte geaardheid
gehad en was ‘n Ma duisend! Ek kan onthou hoe ek en Plesier, toe ons ons nog
baie klein was, deur Ouma in ’n mandjie onder ‘n doek in die hospitaal ingesmokkel is
waar Elma was. Dan het sy ons onder die kombers weggesteek sodat die kwaai susters ons nie kon sien nie – verbeel jou
“vuil“ honde in ’n hospitaal! Ander
kere het ons buite op die groen grasperk rondgehardloop, al langs die swembad waar ons nie kon kom nie want daar was ’n
heining om. Elma het wel partykeer toegelaat dat ons op die opblaasmatras saam met haar in die swembad op die water kon ry.
Dit was so lekker.
Ons KatteBehalwe ons honde was daar altyd ’n klomp katte in die huis. Alhoewel hy voor
my tyd was, het ek baie van ou Krismis, Lilla se kat, gehoor. Die seuns het hom glo Jelle
genoem en dan het Lilla altyd baie kwaad geword. Op ’n keer het hy onder ’n motor beland en moes vir ’n
lang ruk met drade in sy kakebeen en ’n oop wond op sy kop loop wat maar nie gesond wou word nie. Die seuns het altyd
gesê sy brein loop daaruit en dan was Lilla baie kwaad. Oupa het ook ’n kat gehad – ’n pragtige blink,
grys kat met sulke swart strepe en ’n deftige naam, Bastos Machado. Hy was sommer Bassie genoem. Eendag
het hy onder ’n motor beland wat hom doodgery het. Almal was baie hartseer. Na ’n ruk het ons weer ’n kat
gekry wat Ouma en Ben by ’n dierebewaarplek gaan uitsoek het. Hulle het in die hok vol katte ingegaan en hy was die
enigste een wat na hulle toe gekom het. Hy was toe al ’n jaar daar in ‘n hok saam met die ander en
was baie bly om uit te kom om by mense te gaan bly. Sy naam was Sammie en ons was baie lief vir hom. Dit
was asof al sy swaarkry hom ’n baie dankbare kat gemaak het. Ongelukkig het hy, soos katte nou maar is, eendag ’n
dom ding gedoen en oor die heining gespring in die bure se erf in waar hulle wrede Bullterrier hom doodgebyt het. Daarna het
ons nooit weer katte gehad nie.
Die Agterplaashonde Behalwe ons klomp Worse in die huis was daar in die agterplaas ook altyd honde, Bullterriers
of Staffies, baie van hulle voor my tyd. Hulle moes die huis oppas wat hulle goed gedoen
het – die werksmense was maar skrikkerig vir hulle. Die een, ou Jorsie so ’n swart Staffie, het
glo altyd tussen Ouma en die tuinwerker gaan staan. Die tuinwerker kon nooit sy hand uitsteek om iets by Ouma te vat nie,
soos byvoorbeeld sy kos, en dan het Jorsie hom netjies aan sy pols gevat (nie gebyt nie, net vasgehou) en niks geblaf of gegrom
nie, net vasgehou. Ouma moes maar altyd die ding wat sy wou gee iewers neersit waar die tuinwerker dit later kon optel. Ons daaglikse
Lewe in MurrayfieldDie lewe daar in ons
ou groot huis in Murrayfield was lekker maar nie baie opwindend nie – behalwe as Ma Katryn weer ‘n
werpsel gekry het of so iets. As Oupa hulle uitgegaan het, het hulle ons maar in die huis opgesluit en dan het ons in die
televisiekamer op die bank gelê en gewag vir hulle om terug te kom. Ongelukkig was daar van ons – ek sal maar
nie name noem nie want ek klik nie – wat dan uit verveeldheid die banke opgevreet het. As die Oumense terugkom, was
die hele plek onder skuimrubber en was hulle baie onsteld. Ouma het toe dik komberse oor die banke gesit en met babadoekspelde
vasgesteek sodat ons nie by die skuimrubber kon uitkom nie maar sy het nie gereken met Sus Griet wat doekspelde kon oopmaak
nie. Die Oumense moes die meubels twee keer vervang. As ek terugdink is ek skaam daaroor maar aan die anderkant was dit amper
so lekker soos ’n kussinggeveg dat die vere so waai.’n Mens is ook maar onverantwoordelik as jy so jonk is! Later met al die kinders uit die
huis en Oupa wat so dikwels oorsee gereis het en Ouma wat dan alleen moes bly, het hulle besluit om maar die ou groot huis
te verkoop. Dit was vir jou ‘n ding om van al die goed ontslae te raak wat te veel was vir die nuwe kleiner plekkie
in Faerie Glen. Gelukkig was daar vir al ons honde plek by die nuwe huis, Ma Katryn, ek en Plesier en Grietjie
met Erdmann. Alhoewel ons lekker saamgewoon het, het dinge partykeer ook maar warm geword – ek dra nou nog die hap in
my oor om te getuig daarvan.
Later het Elma se ou Jakkie ook by ons aangesluit, amper dood en in ‘n verskriklike verflenterde
toestand nadat Erich-hulle se Burg hom beetgehad het. Sy gesig was so geswel hy kon nie eet nie en Ouma moes hom op ‘n
matjie uitsleep om ‘n draai te gaan loop want hy kon nie loop nie. Hy het darem later so stadigaan reggekom maar het
daarna altyd met sy gesondheid gesukkel – veral as hy kompos geëet het (waarvoor hy nogal lief was) het hy met
sy maag gesukkel.
My liewe Boetie Plesier
Ou Boetie Plesier was ook nie ‘n baie gesonde hond nie. Hy was dikwels siek. Op ‘n keer was
hy so-te-sê dood, net sy stertjie het nog so effens gewaai daar waar hy op die bed gelê het. Maar Oupa en Ouma
het vir hom gebid en hy het gesond geword. Oupa sê altyd die Here het honde ook gemaak en daarom kan ‘n mens vir
hulle ook bid. ‘n Ander keer het ons gedink hy het nek- of rugprobleme gehad en het hom na Dr van der Zee geneem. Hy
het hom weer na ‘n honde-internis in Sandton geneem. Plesier het kort by ‘n operasie omgedraai maar het weer reggekom.
Daarna het hy weer baie siek geword. Oupa was oorsee en Ouma het hom na die veearts geneem maar hulle kon niks vir hom doen
nie en hy is dood. Ouma het hom toe maar onder die maalklip in die tuin begrawe waar die mooiste blomme vandag groei. Sy dood
was vir my hartverskeurend want hy was my liewe Boetie en ook my beste vriend. Ek mis hom tot vandag toe nog, hy was die dierbaarste
hond - dis hoekom sy naam Plesier was.
Tyd vir ‘n Verandering Een
Ieder Woelt Hier om Verandering
Hierna het ons begin hoor die Oumense
praat daarvan om miskien oorsee te gaan vir drie jaar. Vir ‘n Worshond wat in Pretoria gebore is en altyd daar gebly
het en skaars ooit uit die erf gegaan het, was dit ‘n vreemde gedagte – ek het maar min geweet van oorsee maar
ek het my ore oopgehou en alles gehoor wat hulle gepraat het en al hoe meer begin leer. Naderhand het ek glad opgewonde daaroor
begin raak omdat ek van kleinsaf baie nuuskierig was en altyd nuwe dinge wou doen. Ons was baie verlig om te hoor die Oumense
het beplan om van ons saam te vat – net Griet en Erdmann sou by Lilla-hulle agterbly.
Oupa het gesê ons gaan in Weenen in Oostenryk woon en omdat ek baie van mooi
musiek hou was ek baie bly want hulle sê Weenen is die stad van musiek. Hier het Haydn, Mozart, Beethoven, Schubert
en Strauss en baie ander komponiste gewoon en gewerk. Ek het ook televisieprogramme oor Oostenryk gesien en dit het vir my
na ‘n baie mooi groen land met sy hoë berge gelyk. Oupa het gespot en gesê ons Boereworse gaan nou Weenseworse
word.
Die Groot Trek Die
trek na Wien (soos die Oostenrykers sê) was vir jou ‘n ding. Dit was ‘n gegroet en gekuier
en groot inpak. Meeste van ons meubels en sulke goed het hulle eers kom haal om hier in Suid-Afrika te stoor en die ander
goed het hulle in ‘n vraghouer gepak wat per skip na Wien toe moes gaan. Dit was maar ‘n deurmekaar tyd met ‘n
inpakker in elke kamer, ‘n mens moes maar net oppas of hulle draai jou ook toe in bubblewrap en pak jou in. Ouma het
net betyds gekeer dat hulle ‘n dosyn eiers inpak om na Wien toe te stuur. Met die vraghouer in die son en die lang tyd
wat die houer op die skip sou wees, sou die hoenders seker uit die houer gevlieg het as hulle dit in Wien oopgemaak het! Hulle
het glad van die Oumense se leë tasse toegedraai en ingepak en toe die Oumense hulle klere wou inpak, was die tasse weg!
Die inpakkers moes ‘n hele klomp pakkies oopmaak voor hulle by die leë tasse uitgekom het! Behalwe die nuwe tasse wat die Oumense gekoop het, was daar ook so ‘n ou klein
groen hokkie waaroor hulle eers niks gesê het nie maar wat ek naderhand uitgevind het vir my bedoel was om op die vliegtuig
saam te ry. Ma Katryn en Jakkie sou agterna kom op hulle eie. Die Oumense kon nie drie honde in die hotel in Wien aanhou nie.
Ek het nie nie juis kans gesien vir die benoude hokkie nie – ‘n hond kon homself skaars daarin omdraai en wat
gemaak as jy nou ‘n draai wil loop? Hoe nader dit aan
die vertrekdag gekom het, hoe meer het ek op my senuwees gekry. Vir ‘n hond wat sy hele lewe lank op ‘n erf agter
heinings of mure gebly het en nie veel geweet het van wat daar buite aangaan nie, was die onbekendheid van wat op my gewag
het, amper te veel vir my. Jy moet darem weet ek het vantevore min in ‘n motor gery, wat nog van ‘n vliegtuig!
Alles was vir my vreemd en het my benoud gemaak. Hoe sou ek regkom in ‘n ander land met ‘n ander taal en
ander gewoontes? Ek moes ook allerlei permitte en gesondheidsertifikate kry asook ekstra inspuitings by
die veearts en jy weet hoe min ek daarvan hou.
Volstruisfilet en Kaskenades in die Lug Eindelik het die dag aangebreek op 30 September 1999. Die tasse was gepak en die mense het kom groet,
sommer baie van hulle. Erich en Kobie met Nico en Jani het ons kom oplaai en lughawe toe geneem en Lilla- en Elma-hulle was
ook saam. Almal moes help met ons enorme klomp bagasie. Ek het in my lewe nog nie so baie mense gesien nie - dit was ‘n
verskriklike gedrang en ek is in my hokkie gesit. Ek was ook maar bly want die honderde mense met al hulle trollies en tasse
sou sommer bo-oor my geloop het. Oupa moes my, hok en al, eers na ‘n spesiale toonbank toe neem waar ek geweeg is en
Oupa vir my ekstra moes betaal – soos vir ekstra bagasie. Bid jou dit aan – ek Rufus was sommer soos ‘n
ekstra tas beskou. Hulle wou ook al my papiere en permitte sien. As ek reg onthou moes Oupa omtrent R500 betaal vir my reis. Die ergste het ek jou natuurlik nie vertel
nie. Vir ‘n hele dag voor ons op die vliegtuig geklim het, mag ek niks geëet of gedrink het nie – ek was
naderhand so dors en honger maar hulle het vir my niks gegee nie behalwe so ‘n wit pilletjie wat
my baie lomerig laat voel het. Ek het gehoor hulle praat van ‘n kalmeerpil maar wat ek wou hê was kos, lekker
kos! Nadat ons vir
Erich-hulle gegroet het, Ouma en Oupa natuurlik met baie trane, is ek in my hokkie saam met die Oumense en hulle handbagasie
na die groot vertreksaal met baie mense waar ons moes wag voordat ons op die vliegtuig kon klim. Intussen het my
maag geskreeu van die honger en my tong het omtrent uitgehang van die dors. Uiteindelik was ons op die vliegtuig van Austrian
Airlines. Die lugwaardinne was heeltemal in rooi aangetrek, selfs hulle kouse was rooi – hulle het my ‘n
bietjie aan posbusse laat dink! Gelukkig het die Oumense besigheidsklas gevlieg en was daar genoeg plek vir my hokkie by Ouma
se voete. Ek
het naderhand gevoel die vliegtuig begin beweeg, eers stadig vir ‘n hele ent. Ek was maar baie benoud. Toe het hy vir
‘n rukkie stilgestaan en toe het ek gehoor hoe begin die enjins skielik al hoe harder raas en gevoel die vliegtuig begin
al hoe vinniger beweeg - so vinnig dat ek teen die kant van my hokkie vasgedruk is. My hart het in my keel geklop! Naderhand
kon ek voel die vliegtuig stamp nie meer so nie – ons was seker in die lug! Ek het gehoor Oupa, wat baie belangstel
in dié dinge, sê vir Ouma “Ons het teen omtrent 330 km/h opgestyg”. Ek kon nie glo die groot vliegtuig
met die honderde mense en al hulle bagasie kon so vinnig ry op die grond nie en dat ons nou al in die lug was nie! Na ‘n hele ruk – dit moes al
taamlik laat in die nag gewees het - het die rooi lugwaardinne vir Ouma-hulle kos bedien. Julle weet natuurlik hoe goed ek
kan ruik en dit het vir my na topklas kos geruik. Nou moet julle my situasie verstaan, hier sit ek vas in ‘n donker
hokkie by Ouma se voete, doodhonger en met ‘n kop wat skoon dronk is van die pil, met die vreemde geraas van die vliegtuig
in my ore en daarby nog doodmoeg en op my senuwees van al die dag se wedervarings. Die passiers, weer, sit in lekker gemaklike
stoele en word bedien met die lekkerste kos en hulle kan opstaan en rondloop soos hulle wil. Ouma het darem so ‘n stukkie
van haar volstruisfillet vir my deur die hokkie se deurtjie gegee – maar was dit lekker! Naderhand het ek begin spook
en spartel in die hokkie totdat Ouma my oopgemaak en so ‘n bietjie uitgehaal het. Ek wou net rondloop om my bene so
‘n bietjie te rek maar Ouma het my weer teruggeprop in die hokkie. Ek het gehoor hoe sê sy vir Oupa “Die
pil is seker uitgewerk” en het vir my nog ‘n pil probeer ingee. Ek het gemaak of ek dit insluk maar het dit onder
die kombersie in die hok uitgespoeg sonder dat hulle dit sien.
Oupa en Ouma was ook maar moeg en nadat hulle geëet het, het hulle aan die slaap geraak. Toe hulle
lekker slaap en die ligte afgeskakel is, het ek my kans gebruik. Ouma het nie die hokkie se deurtjie goed toegemaak toe sy
my teruggesit het nie en vir ‘n intelligente hond soos ek was dit kinderspeletjies om die deurtjie oop te maak. Dit
was natuurlik nie vir my ‘n probleem om die kombuis te kry nie – nie met my goeie neus nie! Ek wou gaan kyk of
daar nog van die lekker volstruisfillet oor was waaraan die Oumense so gesmul het. By die kombuis aangekom - as jy dit nou
‘n kombuis kan noem, dit was nie eers so groot soos ons ou klein badkamertjie by die huis nie – was die rooi lugwardinne
baie verbaas om my te sien maar te dom om te weet ek soek iets om te eet. Een het dadelik na Oupa toe geloop en hom verontwaardig
aan sy skouer geskud tot hy wakker was. Ek het gehoor hoe sê sy vir hom: “Sir, what a surprise, we found your
dog in our kitchen!” Ek het maar bedremeld in die gangetjie gestaan en my stert verleë gewaai en
gewag om te sien wat gaan gebeur. Plaas dat sy my nou maar net ‘n stukkie kos vir my honger magie gegee het dan sou
ek vanself stilletjies teruggegaan het. Oupa was deur die slaap en het hom morsdood geskrik. Hy het my
dadelik teruggestop in die hokkie en seker gemaak dat die deurtjie goed toe is. So het ek die res van die reis, wat omtrent
elf uur lank was, maar met my hongerpyne en al in die benoude ou hokkie moes sit en wag op verlossing en wonder wat alles
nog op my wag.
Enter content here

|
Lang flug noord |
Aankoms in ‘n
Vreemde Land Ons
land in Wien maar Niemand Kom Ons Haal nie Die loods
van die mooi, nuwe Austrian Airlines Airbus het regtig voet in die hoek gesit. Ek het gedurende die reis gehoor Oupa sê
dat ons nou 1000 km/h vlieg aangehelp deur ‘n baie sterk wind van agter. Ek kon my ore nie glo nie, dit het nie so vinnig
gevoel nie en ek het gewens ek kon by die venster uitkyk om te sien hoe die wêreld daaronder lyk. Ek sou veral graag
die hoë Alpe wou sien waaroor ons gevlieg het, die hoë berge wat soos ‘n rugraat van Oostenryk lyk, gewoonlik
toe onder die sneeu.
Met die vinnig vlieg het ons ‘n halfuur vroeër op die lughawe Schwechat in Wien aangekom,
om halfses die oggend. Omdat dit so vroeg was, was daar maar nog min mense en kon ons vinnig by die bagsievervoerbande uitkom
– ek natuurlik nog in my hokkie sodat ek maar min kon sien wat buite aangaan.
Oupa het die vier groot tasse by die bagasie ontvangplek gekry, dit op ‘n trollie gestapel en my in my hokkie
heel bo-op gesit vanwaar ek alles goed kon sien. Ek het gesien die Oumense loer vir mekaar en mompel iets van “Nou moet
ons nog deur die doeane gaan en die Oostenrykers kan maar moeilik wees.” Dit het my doodbenoud gemaak – sê
nou my papiere was nie reg nie, wat het dan van my geword? Sou hulle my hou en in ‘n hok opsluit of my selfs terugstuur?
Oupa het versigtigheidshalwe al my papiere en permitte uitgehaal en dit gereed gehou. Toe ons met die berg bagasie met my
bo-op verby die doeaneman loop, het hy nie eers na ons gekyk nie en nie eers na my permitte gevra nie. Ek was nogal verlig
maar ook darem baie vies want al my besoeke aan die veeaarts en die inspuitings was dus verniet!
Oupa het uitgekyk vir die mense van die Ambassade wat belowe het hulle sal ons kom haal maar daar was niemand nie.
Ons het toe maar in die aankomssaal gesit en wag. Gelukkig het Oupa my uit my hokkie gehaal en my na buite geneem. Net betyds,
ek kon nie meer knyp nie, ek hoop die blomme voor die lughawe het dit oorlewe! Maar die lekkerste van alles was die bakkie
water wat Ouma daarna vir my gegee het – dit was die lekkerste water wat ek ooit geproe het.

|
Was dit nou lekker water! |
Later het ek ontdek dat dit nie net maar lekker was omdat ek so dors was nie maar dat Wien werklik die
lekkerste water in die wêreld het – dit kom van Schneeberg af naby Wien waar dit oorspronklik suiwer sneeu was.
Wanneer die sneeu smelt loop die helderskoon water deur pragtige woude en daarvandaan afdraende per pyplyn na Wien. Dit hoef
nie eers gepomp te word nie en dis so skoon dat dit nie nodig is om dit chemies te behandel nie en die lekkerste van alles
- dit is altyd yskoud, somer en winter!
Toe het ons maar gesit en wag en wag met niemand wat opdaag om ons te kom haal nie.
Net na agt toe die Ambassade se kantore oop was, het Oupa gebel en gevra wat is hulle planne? Hulle weet toe te vertel dat
daar iemand was om ons te kom haal maar omdat hulle ons nie gesien het nie, het hulle maar weer huis toe gegaan. Dink julle
ek glo hulle? ‘n Mens kon ons met ons berg tasse en die hokkie bo-op miskyk nie. Nietemin het daar so na omtrent ‘n halfuur ‘n tannie
Nicolette en ‘n oom Josef met ‘n kombi gekom om ons na die hotel te neem. Hulle was gelukkig baie vriendelik en
behulpsaam maar dit was vir my snaaks dat oom Josef aan die regterkant van die pad gery het, nie soos hier by ons nie. Gelukkig
was ons nie in ‘n ongeluk nie. Ek het eers later agtergekom al die mense in Oostenryk ry aan die regterkant van die
pad, dit is nou behalwe die baie mense wat hulle Geisterfahrer noem en wat aan die verkeerde kant van die
pad ry en ongelukke veroorsaak!

|
Almal wag vir mense, net nie vir ons nie! |
Kliek vir Groot |

|
Die Donaukanaal wat deur die Stad loop |
Terwyl ons na die hotel gery het,
het ek by die venster uitgekyk en my verkyk aan die ou stad met sy baie mooi geboue en pragtige groen bome. Ons het al langs
‘n kanaal gery waar die water vinnig gevloei het, die Donaukanal. Dit was baie anders as by ons en
die mense het ook ‘n bietjie anders gelyk en al die uithangborde en advertensies was in Duits wat ek darem so hier en
daar kon verstaan. ‘n Worshond
in ‘n Viersterhotel Uiteindelik het ons by ons hotel, die Hotel Kaiser Franz Josef in Grinzing,
aangekom. Die hotel is in Sieveringstrasse, ‘n baie besige straat. Oom Josef het ons tasse afgelaai en ons het ingeboek.
Dit was nie eers snaaks vir die hotelmense dat ‘n hond ook ingeboek het nie.

|
Hotel Kaiser Franz en Ontbytkamer |
Die naam van die hotel het vir my deftig geklink en dit het nogal deftig gelyk ook
vir hond wat nog nooit in ‘n hotel was nie. Ons is na ons kamer nadat ons eers met ‘n hysbak gery het, ook ‘n
eerste ervaring vir my. Die kamer was op twee vlakke met ‘n kombuis en sitkamer wat op ‘n klein balkonnetjie uitgegaan
het onder, en dan ‘n badkamer, studeerkamer en slaapkamer bo wat ‘n mens met ‘n steil trap bereik het. Dit
klink alles goed maar dit was maar nouerig en ek het al klaar verlang na ons grasperk by Farmside. Buite het die motors en
busse verby gesnork, ook maar raserig. Ons het darem twee TV’s gehad en ‘n radio en CD-speler ook.
Die Oumense was maar moeg, veral van die lang vlug en die drie ure se wag op die lughawe. Maar die eerste ding wat
Ouma gedoen het was om vir my kos te gee – was dit lekker! Daarna het hulle gebad en skoon aangetrek en ‘n bietjie
gerus. Ouma was net baie bang ek klim met die steil trap op en maak my rug seer, jy weet mos Worshonde mag nie trappe klim
en spring nie, dis nie goed vir hulle ruê nie. Hulle het dus altyd die trap met ‘n groot tas geblok en my op en
af gedra. Ek het nie juis omgegee nie!

|
Minder gevaarlike vriend in die hotelportaal |
My eerste indrukke was dat dit
baie anders as by ons in Pretoria gelyk het en ek het my verkyk aan die besige verkeer en al die mense wat met hulle honde
aan Leine gestap het. Ek was maar skrikkerig vir die vreemde honde (om die waarheid te sê ek was doodbang) ‘n
hond het nooit geweet of hulle jou as ‘n buitelandse indringer of asielsoeker aansien nie en die meeste van hulle was
maar baie groot. Dit was vir my ‘n vreemde ervaring om so in die straat rond te loop aan ‘n leiband saam met so
baie ander honde aan leibande. ‘n Hond sien mos nie so iets in Pretoria nie want elke hond het sy
eie tuin.

In Wien bly
die arme honde die hele dag in woonstelle en moet uit as hulle wil Gassigehen soos die Wieners sê!
Die gevolg was dat ‘n mens hulle Hundestrümmerl orals op die sypaadjies sien. Party mense wat
Wien besoek konsentreer so waar hulle moet trap dat hulle gladnie die mooi dinge in die stad raaksien nie! Hulle sê
die munispaliteit moet elke dag 5 ton van die goed optel, omtrent ‘n groterige lorrie vol! Wien is daarom verdeel in
twee groepe mense, hondeliefhebbers en hondehaters wat net nie die Strümmerl kan vat nie. Daar is gedurig ‘n groot
bakleiery tussen dié twee groepe. Party hondehaters sit rooi vlaggies in die hopies waar hulle dit op die sypaadjies
kry. Ander sit dreigende plakate op soos hierdie een wat sê: Nie hier nie! Anders ... (skiet ek jou). Ek was self skaam
oor my mede honde se gedrag – ek meen, hulle kon darem net af van die sypaadjies gestap het. Van sypaadjies gepraat
- as die hopie op die sypaadjie lê, is dit die gebouopsigter se plig om dit op te tel. As dit op die grasperk
lê, is dit die Stadsraad se parke afdeling wat moet skoonmaak. Maar as dit af van die sypaadjie, in die straat lê,
dan is dit die straatveërs se taak! Al die burokrasie oor ‘n natuurlike afvalproduk!

|
Stofsuier vir Hundestrümmerl |
Oupa het my gelukkig altyd na ‘n eilandjie met groot bome daarop in ‘n baie stil straatjie
naby die hotel geneem waar ek my besigheid rustig en ongestoord kon doen, weg van die voete van derduisende Wieners. Ons het
maar altyd weer teruggegaan na die plek toe. Eendag het Oupa in die Bybel gelees van die Jode wat Baal se tempel afgebreek
het en dit vir ‘n latrine gebruik het, van toe af het ons die eilandjie Baal se tempel genoem.
Weenseworse, ‘n Ander Spesie
Wat my opgeval het, was dat daar in Wien baie min Worse was wat soos ek gelyk het. Ek kon dit nie verstaan
nie, het ons Worse dan nie van Europa af gekom nie? Min het ek geweet ‘n mens kry ander soort Worse ook! Daar was die
ernstige tipes, die mense noem hulle Rauhaardackels, met sulke steekhare. Hulle het vir my nes oupas met
baarde gelyk wat die lewe baie ernstig opneem. En dan was daar die ander soort wat vir my aan die begin maar baie sissierig
gelyk het, met sulke lang hare en waaiersterte. Die mense daar noem hulle Langhaardackels. Ek het my eenkeer
boeglam geskrik toe ons in die woud gaan loop en so ‘n klein langhaar flerrie op my afgestorm het – ek het darem
my waardigheid. Ouma moes my onder haar arm neem om my te beskerm teen die ongevraagde attensies. Min het ek geweet van ‘n
Langhaardackel later in my lewe!

|
Ernstige Oupa-Wors en Sissierige(?) Langhaarworse |
Enter content here
Ons Verken Die Nuwe ,Vreemde Omgewing
Nadat hulle gerus het, het ons
‘n bietjie gaan stap om die omgewing te verken, ek natuurlik aan’n leiband want die Wieners is baie streng oor
Korb und Leine, dit is nou ‘n mandjie oor jou bek sodat jy nie ander honde of mense kan byt nie (bid
jou dit aan, ek ‘n beskaafde, goed opgevoede hond wat so iets sal doen!) en dan natuurlik ‘n leiband. Dan moet
elke hond ook nog ‘n hondelisensie aan sy halsband dra. Omdat Oupa ‘n diplomaat was, was dit nie vir my nodig
om ‘n lisensie te dra nie. Ook maar goed so, wie wil nou met ‘n nommerplaat om jou nek loop. Gelukkig het hulle
ook nie vir my ‘n Korb aangesit nie en ook nooit een gekoop nie, dit was darem ‘n bietjie benede my waardigheid.
Ander minder gevaarlike honde het ook nie ‘n Korb gedra nie soos my vriendjie hieronder.
Aan die Begin in Wien ‘n Moeilike Aanpassing
Aan die begin was dit nogal interessant in die hotel, daar was soveel nuwe dinge om te ervaar. In die oggend het ek
saam met die Oumense na die ontbytkamer gegaan. Dit was ‘n buffetontbyt waar ‘n mens jouself bedien en kan eet
netsoveel as jy wil. Oupa het dan altyd ekstra gebraaide worsies en kaas en sulke lekker dinge ingeskep en vir my gevoer waar
ek langs die tafel aan my leiband gesit het. Die mense by die ander tafeltjies het gedink dis baie snaaks! Veral daardie gebraaide
klein worsies was heerlik. Maar nie lank daarna nie het ek agtergekom daar is fout met my maag. Die Oumense het hulle doodgeskrik
en omdat hulle nog nie ‘n veerarts geken het nie, het Oupa vir oom Wiets by die Ambassade, wat ‘n Yorkie gehad
het, om hulp gevra. Oom Wiets het dadelik gesê dis die varkworsies wat die probleem was en daarmee was my lekker ontbyt
ook iets van die verlede.
Oupa het die dag na ons aangekom het, begin werk en ek en Ouma was dan die meeste van die dag alleen. Aan die begin
het ons baie rondgeloop maar omdat ek so skrikkerig was vir die ander honde het Ouma my lang ente gedra. Dan het die mense
Ouma altyd gestop en gevra wat is verkeerd, is ek dan siek? Omdat dit begin koud word het, is ek eendag saam met die Oumense
in die trem na die dierewinkel Zoo Sauer langs die huis waar Schubert gebore is en waar
hulle vir my ‘n deftige jas gaan uitsoek het, een wat in Italië gemaak is en wat met ‘n goue ketting vasmaak.
Ek het baie spoggerig daarin gelyk veral omdat ek omtrent die enigste hond met ‘n jas was. Die Wieners is baie lief
vir hulle honde daarom kan ek nie verstaan hoekom hulle nie vir hulle honde jasse vir die koue winters koop nie

|
VN-Gebou waar Oupa al sy vergaderings gehad het |
Maar naderhand het die eensaamheid
vir my en Ouma daar in die hotel begin vang, sy het al haar kinders en kleinkinders en haar vriendinne in Pretoria agtergelaat
en ek my hondefamilie. Dan het sy my sommer styf vasgehou en van verlange gehuil dat die trane so loop maar gesorg dat Oupa
dit nie agterkom nie. Ai, ek en Ouma het darem saam swaar gekry, jy kan maar sê ons het ‘n paar sakke sout saam
opgeëet. Oupa was baie besig by die werk met vergaderings en al die nuwe goed wat hy moes leer. Ons het nog nie ‘n
motor gehad nie en hy moes omtrent elke dag met bus en moltrein heen en weer ry na die VN se kantore. Hy het nie tyd gehad
om eensaam te voel nie, net benoud oor al die nuwe dinge wat hy onder die knie moes kry.

|
Ouma by die beeld van Lilli en by Motzl se beeld |
Om die tyd om te kry het ek en
Ouma maar baie rondgestap om die omgewing te leer ken, partykeer baie ver. In Sieveringstrasse waarin ons hotel was, het ons
eendag op ‘n bronsbeeld van ‘n eend afgekom met ‘n mooi storie daarby. Daar was lank gelede regtig so ‘n
eend met die naam Lilli en sy het altyd op die tremspoor gaan sit en dan moes die trem stop en die
kondukteur moes afklim en haar van die spoor aftel – elke keer as die trem daar verbygaan! Ten spyte daarvan
het sy baie oud geword. Dan was daar ook nog die standbeeld van ou Motzl met sy broodsak
wat in die ou dae in sonskyn, reën of sneeu getrou vir die mense brood by die huis afgelewer het. Nog ‘n ent verder
in Sieveringstrasse was daar ‘n steengroef waar die Romeine, wat Wien gestig het en dit Vindobona genoem
het, tweeduisend jaar gelede klip uitgehaal het om hulle bruê en geboue mee te bou.
Depressie en Ouma ontmoet ‘n Engel Dit het begin koud word en die dae al hoe korter want die winter was op hande. Dit kon ‘n mens ook sien aan
die herfsblare wat pragtig verkleur het en wat deur mense met sulke oranjepakke aan, in groot hope bymekaar gehark is voordat
‘n vragmotorstofsuier dit kom opsuig het. Die vooruitsig van die winter met die min son en baie koue het my maar baie
depressief laat voel. Ek onthou eendag het ek sommer onder die groot kussing op die bed ingekruip om weg te kom van alles.
Die Oumense kon my nêrens kry nie en het angstig na my gesoek – hulle het gedink ek het weggeloop. Naderhand het
hulle my onder die kussing gekry en was hulle baie bly. Ek het ook naderhand my eetlus verloor en dit was net nie meer lekker
om tydig en ontydig in die reën en donker na Baal se eiland geneem te word nie. Ek het al hoe meer gewens ek was maar
liewer by die huis by ma Katryn en my familie in die lekker sonskyn.
Eendag het ek en Ouma maar weer die strate ingevaar. Die oggend het Ouma gebid en gevra dat die Here die dag ‘n
engel oor haar pad stuur omdat sy so eensaam was. Toe ons nog so loop, kom daar twee tannies by ons verbygestap. Ouma steek
vas en sê “Hulle praat mos Afrikaans!” maar omdat sy nie seker was nie loop ons toe maar aan. Skielik sê
Ouma “Dit was Afrikaans!” en ons sit hulle agterna. “Ekskuus, praat julle Afrikaans?” vra Ouma en
hulle gesigte word sommer bly, “Ja en jy?” vra hulle. Hulle is dadelik saam met ons hotel toe waar Ouma vir hulle
tee gemaak het en uitgevind het hulle is ook van Hatfield Kerk. Nog ‘n gebed was verhoor! Die een tannie en Ouma het
goeie vriende geword, sy het weer by Ouma kom kuier en tot vandag toe nog skryf hulle vir mekaar.

|
Moltrein Moltreinstasie |
Allerhande Bahne - Schnellbahn, Strassenbahn en U-Bahn
Die gewoond raak aan die openbare vervoer was vir my ook ‘n aanpassing. In Pretoria het ek nie eers
dikwels motor gery of skaars ‘n bus gesien nie, wat nog van ‘n onbekende ding soos’n moltrein? In Wien is
daar ‘n baie goeie vervoerstelsel waarmee ‘n mens ooral kan kom. Ek was aan die begin net ‘n bietjie deurmekaar
met wat was wat van die Strassenbahn, Schnellbahn of U-Bahn. As ‘n mens dit op Afrikaans sê dan is dit die straatspoor,
snelspoor of ondergrondspoor. Dan was daar nog die busse ook. Vir my was die interessantste die U-Bahn
of moltrein. ‘n Mens gaan af met ‘n roltrap (iets wat ek ook nie geken het nie) diep onder
die grond en dan ry die trein onder die grond soos ‘n mol! Ek was maar skrikkerig vir die roltrap maar gelukkig het
die Oumense my altyd gedra sodat my tone nie miskien vasgeknyp word nie – ek was doodbang daarvoor. Ek het gewonder
hoe grawe hulle die tonnels sonder dat die geboue inmekaarval want die tonnels gaan reg onderdeur die stad. Ek het ook gesien
hoe inspekteurs mense wat sonder kaartjies gery het - hulle word Schwarzfahrer genoem
- van die trein afgehaal en swaar boetes gegee het.

|
Die D-trem (Nussdorf) voor die Opera |
Die trems, wat die Wieners Bims noem, was vir my ook baie interessant, veral omdat hulle bo-op
die grond loop saam met die motors in die straat en ‘n mens kan die omgewing dus bekyk. Maar hulle was nie so vinnig
soos die moltreine nie en ook ‘n bietjie outyds en lawaaierig met hulle klokke wat lui in plaas van toeters. Maar praat
van outyds, die drywer kom kort-kort kyk na ‘n kas onder een van die banke en dan roer hy met so ‘n grafie daarin.
Ek het gewonder wat dit kon wees en toe ek loer, sien ek dit was growwe sand. Dit was vir my snaaks dat die drywer sy eie
sandkas saamry totdat ek later uitgevind het die trem gooi die sand op die spore net voor die wiele om dit te help rem! Uit die Kerk Geskop (amper!) Oupa en Ouma wou baie graag by ‘n kerk uitkom in Wien maar omdat die mense in Oostenryk omtrent almal Katoliek
is, was dit maar moeilik om ‘n kerk te kry. Ons het gehoor van ‘n Metodiste kerk waar party Suid-Afrikaners heengegaan
het en het een Sondag afgesit daarheen met bus, moltrein en trem. Die Oumense wou my nie alleen by die hotel los nie en het
my toe maar saamgeneem. Toe ons by die kerk wou ingaan het die koster, nogal ‘n swartman, gesê julle kan nie met
‘n hond ingaan nie. Oupa het hom baie vererg en vir die koster gesê dat ons dan maar gaan loop as ons nie welkom
is nie. Hy het my onder die arm vasgeknyp en vir Ouma gesê “Nou loop ons!” Die man het agterna gehardloop
en gesê nee ons kan maar ingaan solank ek nie ‘n steurnis veroorsaak nie. Kan jy dit glo? Ons het toe maar ingegaan
en gaan sit. Die predikant het so ‘n lang swart jas soos ‘n rok aangehad en het nie juis gepreek nie, hy het vertel
van die dae toe hy in die lugmag was! Die Oumense het maar ongeduldig rondgeskuif en toe ons ‘n kans kry teen die einde,
vinnig uitgeloop en huis toe gegaan. Ons het nie weer na daardie snaakse kerk toe gegaan nie.

|
Russiese Saadkraai Kraaiswerm |
Ander kere het ons na ‘n kerk gegaan nader aan waar ons gewoon het. Een van Oupa se kollegas was ‘n diaken
daar en baie Amerikaners het na die kerk toe gegaan. Die mense was daar heelwat vriendeliker en niemand het my snaaks aangekyk
as ek saamgekom het nie. Ek het deur die hele diens maar op ‘n stoel tussen die Oumense gelê en luister. Ek dink
daar is min indien enige honde wat al ooit in ‘n kerk was soos ek. Later het die klomp Boere in Wien ‘n Afrikaanse
kerk gestig en dit was toe neusie verby vir my kerkganery – Boere verdra ‘n hond nog minder in die kerk (ons is
mos onrein diere!) en ek moes maar by die huis bly! Sneeu en Kraaie
Twee ander dinge wat ek onthou toe ons in die hotel was, is dat toe ons een oggend wakker word, het daar sneeu op die
balkon gelê en in die straat kon ‘n mens ook sneeu sien – die eerste keer in my lewe dat ek soiets sien!
Die ander ding is die geweldig baie swart kraaie wat sommer van nêrens af verskyn het. Die mense in Wien noem
hulle “saadkraaie”. Ons het later gehoor dat in Oktober elke jaar met die aanbreek van die winter in Wien daar
tussen omtrent 200 000 tot 300 000 kraaie van Rusland af kom waar dit dan te koud is en alles toegesneeu is. Veral in die
middag wanneer hulle na hulle slaapplekke in die woud gevlieg het, was die lug sommer swart van hulle.

Ons Soek Huis
Die enigste ligpunt van ons tyd in die hotel was Tannie Nicolette wat nou en dan vir
ons huise gaan wys het wat ons kon huur. Dan het ons ‘n bietjie uitgekom. Maar Oupa se vereistes was streng vir so ‘n
huis; vir ons Worshonde moes die huis nie trappe gehad het nie, dit moes ‘n tuin hê, naby ‘n bus- of tremroete wees en ook ‘n garage
hê vir die motor wat ons sou koop. ’n Mens behoort nie jou motor buite te los in die winter nie, dit sneeu toe
en jy moet dit letterlik uitgrawe en dan verys die slotte ook nog. As jy nie presies onthou het waar jou motor geparkeer is
nie kon jy dalk die verkeerde motor oopgrawe! Huise
met ‘n tuin is in Wien so skaars soos hoendertande so dit was maar ‘n gesoek. Daar was een huis in ‘n straat
met die naam Kaasgraben waarvan ons baie gehou het maar toe besluit die eienaar hy gaan net die helfte van die huis verhuur
en dit sou dan te klein vir ons wees. Ons was naderhand moedeloos, Tannie Nicolette seker ook maar sy het niks gesê
nie, sy was te ordentelik.

|
Ons groen woonbuurt |

Ons trek in! Uiteindelik ‘n huis in Armbrustergasse
Uiteindelik het sy vir ons ‘n huis in Armbrustergasse op die grens tussen Heiligenstadt
en Grinzing gaan wys – dit was net wat ons wou hê. Die huis was op die busroete en Oupa (wat toe nog nie ‘n
motor gehad het nie) kon sommer werk toe loop. Behalwe ons was daar nog sowat ses ander families in die meerfamiliehuis (soos
hulle dit noem). Hulle was almal Amerikaners behalwe die Japannese wat ‘n bietjie later in die woonstel bokant ons ingetrek
het. Daar was ‘n
lekker groot tuin met ‘n grasperk vir my en met groot kastaiïngbome en ‘n laning struike wat ‘n lelike
ou skewe muur toegemaak het. Die kastaiïngbome laat val net voor die winter sulke stekelrige sade wat ‘n hond se
voet erg kan steek! In die winter wanneer dit koud is, is daar mense wat die kastaiïngs braai en dit verkoop onder die
naam “Maroni”.

|
Kastaiïngs onder die bome |
Aan die begin het ek so ‘n
bietjie geskrik vir die diertjies met die lang ore wat op die tuinmuur rondgehardloop het en wat ek nie geken het nie –
ek het gewonder of dit die Husse met lang ore is waarvan die Oumense dikwels praat. Later het ek uitgevind dit was eekhorinkies
en dat hulle nie lang ore het nie maar dat die lang hare daarop dit so laat lyk. Hulle was maar skaam diertjies en as ek nader
gestap het om kennis te maak, het hulle vinnig laat waai.
In
die woonstel langs ons het ‘n Amerikaanse vrou en haar seuns gewoon. Sy het twee enorme windhonde gehad, iets wat ek
nog nooit vantevore in my lewe gesien het nie. Snaakse honde, maer en met sulke laaaang bene, seker so lank soos twintig Worshonde
s’n! Sy het glo die honde in Amerika gered van ‘n windhondresiesbaan waar hulle twee weke sonder kos opgesluit
was, hulle hare en hulle tande het al begin uitval. Arme goed. Sy was kort-kort by die veearts met hulle want hulle het vir
die res van hulle lewe met hulle tande gesukkel. Ek het hulle maar jammer gekry want ek het gehoor windhonde moet baie oefening
kry maar hulle was heeldag in die huis opgesluit en het droewig gehuil as hulle mense nie tuis was nie. Maar van hondegehuil
gepraat! Die mense oorkant die straat het vyf Huskies gehad en kon hulle huil! Die een het begin en dan
het die ander ingeval en saamgesing, dit het soos ‘n trop wolwe geklink. Ek was maar baie lugtig vir hulle – hulle
het sulke ligblou oë gehad wat gelyk het of hulle deur jou kan kyk. Omdat hulle sneeuhonde is, het hulle sommer heeldag
lekker op die sneeu en ys gelê en slaap.

Maar so van honde gepraat –
my en Oupa se held was natuurlik die bobaas Weense speurhond Rex wat ons weekliks op die TV kon sien wanneer hy al wat ‘n
skelm was, in Wien gevang het. Soveel intelligensie sien jy by baie min mense - wat nog te sê by
honde - en ons kon nooit wag om sy programme op ORF (dis nou Oostenrykse TV) te sien nie.
Ons het so gou ons kon uit die hotel na die huis toe getrek. Gelukkig het die Ambassade vir ons meubels gegee. Party
daarvan was maar oud en nie so baie mooi nie (Oupa het altyd gesê dis Mbeki se meubels) maar dit was beter as niks.
Ons goed wat met die houer op die skip gekom het was ook gereed om afgelewer te word. Toe was dit weer ‘n uitpakkery
van ‘n ander wêreld. Maar ek het sommer beter gevoel in ons eie huis met so baie bekende dinge om jou. Al was
die winter op ons was die huis lekker warm binne in. Daar was so ‘n kas in die portaal waar dit van tyd tot tyd begin
brom het – Oupa het gesê dis die binneshuise verhitting wat aankom en ons het nooit in die winter in die huis
koudgekry soos in Pretoria nie, al het dit ook gesneeu.

Ek gaan IKEA toe Ek is eendag saam met Ouma en Tannie Nicolette om te gaan gordyne uitsoek by ‘n baie
groot winkel, IKEA. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek in ‘n winkel kom en
dan nog so ‘n groot een, ek het my verkyk aan alles. In Suid-Afrika gaan honde mos nie juis winkels toe nie. Toe Ouma-hulle
so besig was om gordyne uit te kies, het ek die pad gevat om na al die mooi dinge in die winkel te kyk. Na ‘n ruk hoor
ek Ouma waar sy op en af hardloop en benoud vir die mense vra “Have you seen my dog?” Toe een van die winkelmense
my vir Ouma wys, het sy sommer aan die huil gegaan – sy het gedink sy het my vir ewig verloor en ek wou nog na so baie
goed gaan kyk het!
Vreugdevolle Dag - Ma Katryn en Jakkie kom aan
Maar die lekkerste van alles was
die vooruitsig om weer vir Ma Katryn en ou Jakkie te sien want Oupa het dadelik met Lilla gereël dat die hondereisagentskap
hulle by die huis in Faerie Glen gaan haal om hulle per vliegtuig na ons aan te stuur. Die dag toe hulle op die lughawe aangekom
het, het Oom Hofmann van die Ambassade en Oupa afgesit met die kombi lughawe toe. Anders as ek het Ma Katryn-hulle nie by
die mooi gedeelte van die lughawe met sy blink vloere en deftige winkels aangekom nie maar by die vraggedeelte. Oupa sê
dit het maar oes daar gelyk. Toe hulle daar aankom het oom Hofmann gevra waar die honde is, toe sê ‘n man hy sal
gaan gaan kyk of hulle al gekom het en spring op so ‘n klein trekkertjie met ‘n sleepwaentjie en jaag daar weg.
Oupa sê hy het na ‘n ruk ‘n vreeslike geblaf en getjank gehoor lank voordat hy die trekkertjie gesien het.
Nie lank daarna nie kom hulle in hulle kas met ‘n spoed om die draai en toe Katryn en Jakkie hom sien was die gort gaar
– hulle het geblaf en getjank dat hoor en sien wou vergaan. Oupa sê hy was so skaam vir die twee dat hy agter
‘n pilaar weggekruip het sodat hulle hom nie sien nie, anders het hulle te veel lawaai solank Oom Hofmann die papiere
en permitte laat nagaan het.
Die twee was toe al die tyd saam in ‘n groot kas (arme Ma Katryn, sy was juis nie baie lief vir ou Jakkie nie)
wat Oupa-hulle dadelik in die kombi gelaai en vinnig afgesit het huis toe. By die huis aangekom is hulle dadelik oopgemaak
en die twee is met ‘n vaart tuin toe. Hulle kon net nie meer knyp nie! Ons moes toe hoor hulle was langer as ‘n
dag en ‘n nag in die hok sonder te ete of te drinke en het saam met die tasse gevlieg, nie soos ek besigheidsklas nie.
Hulle is eers na Brussel in België - nogal met SABENA wat intussen bankrot gespeel het - voor hulle ‘n ander vliegtuig
na Wien gekry het – arme goed. Maar was ons bly om mekaar weer te sien!
Enter content here
Rufus vervolg, tweede blaai.
Ons woon in Wien‘n Klipgooi van Beethoven se Huis Ons
huis in Armbrustergasse was naby Probusgasse en Pfarrplatz waar Beethoven in verskillende huise gewoon het,
jy kan maar sê ‘n klipgooi van ons af. As ek na die veearts, dr Krempl toe gegaan het, het ons altyd by die huise
in die ou nou straatjie verbygeloop en het ek sommer hoendervel gekry om te weet die beroemde komponis het daar gewoon en
dikwels in dieselfde ou straatjie geloop. Ons het ook partykeer langs die Beethoven-spruitjie gaan stap waar die beroemde
man dikwels gaan wandel het en na die voëls geluister het om inspirasie te kry vir sy Sesde Simfonie.

|
Beethoven skryf musiek ... Beethoven het hier gewoon |
Ons woon in Wien‘n Klipgooi van Beethoven se Huis Daardie dae was Heiligenstadt, dis nou ons buurt se naam,
ver buite die stad wat toe nog met ‘n hoë muur omring was, jy kan maar sê Heiligenstad was
plaasgebied. Daar was ook ‘n Spa, of warmbad, by Heiligenstad en hierheen het Beethoven gekom vir
sy siekte en gehoop die warm water sou help. Hier het hy ook vir die eerste keer in ‘n brief aan ‘n familielid
geskryf van sy siekte. Die brief sou later bekend word as die Heiligenstadt Testament. Hierdie siekte waaroor
hy baie verleë was, was sy doofheid wat al hoe erger geword het. Hy was maar 18 jaar oud toe hy dit die eerste keer agtergekom
het. Toe hy sowat 200 jaar gelede die Heiligenstad Testament geskryf het (hy was toe maar 32 jaar oud), was hy omtrent al
heeltemal doof. ‘n Mens sou wonder waaroor was hy dan so verleë? Hy was so moedeloos omdat hy nie sy eie musiek
wat hy geskryf het, kon hoor nie! Dink nou maar hoe vreeslik moes dit vir hom gewees het, soos vir die beste rugbyspeler of
ballerina in die wêreld wat skielik ‘n been verloor! Hy het die klavier so hard gespeel om die musiek te kan hoor
dat die klaviersnare partykeer gebreek het en die huisbase was so vies oor die lawaai dat hy telkens maar moes trek na ‘n
nuwe plek toe. Eienaardig genoeg het hy sy beste musiek geskryf toe hy heeltemal doof was, omtrent soos ‘n skilder wat
sy mooiste skilderye geskilder het toe hy heeltemal blind was. ‘n Mens kan dit amper nie glo nie. Nou dat ek oud geword
het, weet ek wat dit is om doof te word en ek het baie simpatie met die arme Beethoven.

|
Wynoes op Kahlenberg |
Weinberge – Druiwe op ons Drempel
Heiligenstadt en Grinzing is besonder omdat daar tot vandag toe nog baie wingerde is. Die wingerde was
naby ons huis in Armbrustergasse en vroeg in die oggend kon jy die boere daar verby hoor ry met hulle trekkertjies om in die
wingerde op die heuwels te gaan werk, hulle noem dit Weinberge. In Oktober en November is daar ‘n groot
doenigheid wanneer die druiweoes ingesamel word om wyn te maak en heeldag ry die trekkers en sleepwaens vol druiwe by die
huis verby. In die somer is die wyn dan reg en word saam met kos bedien in die baie Heurigers (restaurante)
wat in ons omgewing was.

|
Bach-Hengl se Heuriger in Grinzing |
Van restaurante gepraat, die lekkerste een vir die Oumense was beslis Brummbärli naby ons huis. Die restaurant
is vol teddiebere, honderde van hulle, van groot na klein. Hulle het so dikwels daarheen gegaan dat die eienaar hulle naderhand
goed geken het en as hy met sy Jagdhund gaan stap en hulle op straat teëgekom het, het hy hulle altyd op die naam gegroet.
Vir my was dit ‘n goeie ding want ek het dikwels die lekker kos wat die Oumense nie kon opeet nie vir myself gehad.
Hulle het net vir die kelner gesê “Einpacken bitte” en dit dan vir my gebring!
Kerkklokke van die Ouwêreld Wat my terug in Pretoria baie laat
verlang na ons huis in Armbrustergasse is die kerkklok in die St Michaelkerk naby ons huis. Nie net het dit op verskille tye
gelui nie, maar op elke kwartier die tyd aangegee. Maar ‘n mens moes leer om die gelui te verstaan. Aan die begin eendag
om twaalfuur het ek gehoor die klok lui sestien keer en nie twaalfkeer nie! Naderhand het ek agtergekom die klok lui eenkeer
om kwart oor, tweekeer op die halfuur en driekeer om kwart voor. Op die uur lui dit dan vier keer en dan eers die getal slae
wat die uur aandui. Ai, dit was so wonderlik om na die klokgelui te luister, dit het ‘n mens laat voel jy leef nou in
‘n ander wêreld, die mense noem dit die Ouwêreld. Ek kan verstaan waarom hulle dit so noem want
naby ons huis was daar ‘n ander restaurant, Schöne Aussicht, wat gebou was op fondamente van 900 jaar oud.

|
Sneeu in ons straat en in ons tuin |
Wintertoestande – nie ‘n Grap nie
Na
al die opgewondenheid oor die intrekkery en Ma Katryn en ou Jakkie se aankoms, het die lewe in Wien begin om meer normaal
te word maar ons was maar ‘n rukkie in ons huis toe het die winter toegeslaan het met die dikste sneeu. Ons moes natuurlik gewoond
raak aan die koue winter buite met die sneeu en reën. Die sneeu was nie ‘n grap nie! Synde ‘n goed-opgevoede
hond het ek nog nooit wat ek kan onthou ‘n glipsie in die huis gemaak nie, so dit was maar altyd buitentoe. Hoe nou
gemaak wanneer ons Worshonde se kort beentjies in die sneeu wegsak totdat jou maag op die sneeu lê – dit was nogal
‘n probleem. Oupa het naderhand maar ‘n sneeugraaf moes koop om vir ons paadjies te maak tot op die grasperk.

|
Ek met my designer jas op soek na n stukkie grasperk |
Die winter in Europa is nie speletjies
nie – dit het ek terdeë uitgevind. Hier by ons skyn die son in die winter darem in die dag en in die nag lê
ek warm by die Oumense in die bed. Maar dit is nie vir alle diere so maklik nie,
net die bere met hulle dik pelsjasse geniet dit blykbaar. Gelukkig is daar mense wat goed vir hulle diere sorg soos die koue
speenvarkie wat deur sy baas in ‘n lekker warm bad gesit is toe dit baie koud geword het.
In die winter is dit ook maar moeilik vir die arme voëltjies om kos te kry omdat alles toe is onder
die sneeu en dan moet hulle gevoer word. Oupa-hulle het altyd sakkies met ‘n mengsel van saadjies en vet gekoop wat
die mense Meisenknödel noem en dit aan die struike in die tuin gehang wat veral die Meisen geniet het.


Sowat van verskillende soorte veryste
water het ek nog nie gesien nie! Behalwe die sneeu (die Wieners maak ‘n verskil tussen droë en nat sneeu!) was
daar ook mis wat in die lug vries en op die grond val soos ‘n wit poeier, of baie fyn ysreën met klein yskorreltjies,
gewone hael soos ons dit ken of die water op die nat paaie en sypaadjies vries sommer skielik maar dit lyk maar nog steeds
nes water. Die probleem is hierdie ys is so glad soos seep. Ek het self gesien hoe Oupa by die huis uitgestap het op wat hy
gedink het nat plaveisel is en die volgende oomblik op die naat van sy rug gelê het met ‘n vreeslik verbaasde
gesig. Hierdie gladde ys noem hulle swart ys (seker omdat dit nie wit lyk soos ys nie) en is die oorsaak
in die winter van baie motorongelukke. Die motors ontdek skielik hulle remme help niks nie en dan is almal inmekaar in –
soos die Wieners sê, Blechsalat, of te wel blikslaai, is die resultaat!
Al was die winter so erg, was dit
altyd wonderlik wanneer die lente weer terug gekom het - geen weer of ys het dit gestuit nie.

|
Nico en Jani by Armbrustergasse en by die Christkindlmarkt |
Ons eerste Gaste! Eendag hoor ek die Oumense praat
van die eerste gaste wat hulle verwag, dit was niemand minder nie as Nico en Jani nie. Maar
wat my stomgeslaan het, was om te hoor hulle kom alleen en Ma Kobie kom eers later. Hoe kon hulle so slim wees om alleen te
vlieg want hulle was dan nog so klein? Oupa het dadelik ‘n slee gaan leen by iemand sodat die kinders kon slee ry en
hy het ook ‘n televisiestel en videospeler gaan koop. Ouma en Oupa is die oggend vroeg weg van die huis lughawe toe
met die bus en trein (ons het toe nog nie ‘n motor gehad nie) om hulle te gaan haal. Oupa het hom blykbaar misgis met
die swaar tas en toe hulle met Nico en Jani by die huis aankom, het hy krom soos ‘n ou omie geloop – hy het sy
rug seergemaak. Hy moes toe maar na dokter Deecke toe gaan om hom in te spuit en pille te gee.

|
Christkindlmarkt voor die Rathaus |
Een aand het die Oumense en Nico en Jani na die Ambassadeur
se deftige huis gegaan waar sy ‘n kerspartytjie gegee het. Oupa en Ouma het vooraf vir hulle gesê hulle moet Ambassadeur
Nosipho Mxakato-Diseko mooi groet en toe val hulle haar altwee onverwags om die nek en gee haar ‘n stywe druk. Sy het
baie daarvan gehou! Hulle is met sakke vol lekkergoed huis toe.‘n Klompie dae later het Ma Kobie ook aangekom en toe
het almal lekker rondgeloop. Ons honde het nie saamgegaan nie maar ons het gehoor die kinders het lekker slee gery op die
sneeu bo in die Wienerwald en in die restaurant op Leopoldsberg tot Frau Schmallvogel se verbasing warm sjokolade
en koue roomys saam bestel het. Hulle was ook by die Christkindlmarkt wat elke Kersfees
voor die stadsaal gehou word. Ek was maar bly ons het nie ook saamgegaan nie toe ek gehoor het hoe koud hulle gekry het!

|
Riesenrad op die Prater |
Nog Gaste
Nadat Nico en Jani weer terug is huis toe (hulle het die volgende jaar weer kom kuier maar dié keer saam met
Pa en Ma) het ons in die drie jaar wat ons daar was ook ander gaste gekry, so baie ek kan nie eers almal onthou nie. Party
het ek goed geken soos Lilla en Elma (wat tweekeer daar was, partykeer was Armand en André ook vir ‘n rukkie
saam) maar ander was vreemd soos oom André se Ma en suster, Ouma se Niggie en haar man wat in Engeland woon (Tannie
Yvonne en Oom Reg) en die Van der Kouwes van Pretoria. Oom Tom en Tant Poppie van Farmside en Ouma se broer oom Ben, tannie
Anna en haar suster tannie Sannie het ek darem so ‘n bietjie geken. Net arme Ben en Jana kon nooit vir ons kom kuier
nie omdat hulle nie hulle besigheid in Upington alleen kon los nie ‘n
Mooi storie vir my is toe Oom Emile van der Kouwe en sy vrou Hermione by ons gekuier het – ek ken hulle al van Murrayfield
se dae af. Oom Emile wou vreeslik graag die Riesenrad sien en daarop gaan ry.

|
Museum Karlsk |

|
Karlskirche |
Die ou Riesenrad (dit beteken Reuse
Wiel) - is in 1898, dis meer as 100 jaar gelede, gebou en die meeste mense wat Wien besoek wil graag daarop
ry – nes Nico en Jani ook daarop wou ry. Die ou Riesenrad is in die Tweede Wêreldoorlog (waarvan ek julle later
sal vertel) swaar beskadig maar is weer herstel maar net die helfte van sy gondolas is teruggeplaas omdat die ou wiel so oud
is. Elke gondola kan twaalf mense vat en die wiel is omtrent 22 verdiepings hoog. Nou,
amper vergeet ek die storie van oom Emile. Toe hy, tannie Hermione en Ouma die dag gaan ry het, was daar ook ander
mense in die gondola met so ‘n groot soort hond – jammer ek het nooit die kans gekry om saam te ry nie! Oom Emile
hoor die hele tyd die ander mense noem sy naam maar as hy vir hulle kyk, dan kyk hulle nie vir hom nie. Hy was – hoe
sê julle – gepuzzle. Naderhand, toe hy mooi luister, toe hoor hy die mense praat met hulle hond en nie met hom
nie! Daar was ‘n groot gelag in die gondola toe die mense uitvind hy en die hond het dieselfde naam.

|
Graben |
Wanneer daar gaste was het die Oumense en die gaste
lekker rondgeloop en al Wien se interessante plekke bekyk en ons drie honde moes maar droëbek by die huis sit. Ons kon
maar net luister hoe vertel hulle van die groot Stefansdom, die Karlskirche, Schönbrunn kasteel en al sulke mooi plekke.
Dan het ek maar net gewonder hoe lyk dit daar? Partykeer het ek darem programme oor die TV gesien van die mooi plekke.
|