our cosmos is life's creation

Memoirs van Rufus deel twee

Rufus Baron von Wufus
Rufus/image1-1.jpg

Rufus Begin Vertel

Deel twee van
Die Memoirs van ‘n veelgerese,welbelese en veelgeprese WORSHOND.
Deur Rufus Baron von Wufus
Maart 2004 

Vervolg hier vir die laaste deel

 En vandag vrydag 3 September 2010 09:55 a.m. Ontvang die volgende pragtige  fotos met die boodskap - (wie het gesé - honde het nie siele nie).

"By ons is dit nou lente, kyk hoe lyk Lydia se tuin. Miskien is die grond so dankbaar omdat ons al 'n paar van ons lieflike, oorlede honde (Rufus en Plesier) daar begrawe het".

Rufus/image111.jpg
So het ons Passat Variant gelyk

Oupa koop ‘n Stasiewa

Sowat agt maande nadat ons in Wien aangekom het, het Oupa eers sy motor gekry. In Wien koop jy nie ‘n motor van die vloer af nie, jy sê presies vir die mense wat jy wil hê en dan bou hulle die motor vir jou. Oupa se Passat Variant is in Duitsland gebou en dit het omtrent drie maande geneem vandat hy die motor bestel het totdat hulle hom afgelewer het. Oupa was baie in sy skik met die stasiewa, ‘n turbo-diesel met Tiptronic automatiese ratte (wat dit ookal mag beteken) en spesiaal vir ons honde ‘n bagasienet wat jy kan opslaan om die mense van die honde te skei. Nou moet ek bieg dat Oupa dit net eenkeer gebruik het met ons drie honde want toe ons by die huis kom, het hy ontdek dat Jakkie die splinternuwe bagasienet begin opvreet het – hy wou nie agter die afskorting sit nie!

Arme Oupa het aan die begin maar baie gesukkel met die bestuur omdat die stuurwiel aan die verkeerde kant sit, as ‘n mens dit nou met Suid-Afrika vergelyk. Dan moet jy ook nog aan die regterkant van die pad ry, as ’n mens die ou nou straatjies paaie kon noem. Die straatjies is gemaak toe daar nog net perdekarre was! Ek het dikwels gevoel hoe die motor se regterwiele woemp! op die sypaadjie opklim omdat Oupa geen gevoel gehad het oor waar die motor se regterwiele gesit het nie. Mettertyd het hy darem reggekom en hoef ek my nie meer te geskaam het vir sy snaakse bestuursgewoontes  nie. Nou was dit darem ook baie makliker om besoekers by die lughawe te gaan haal of om winkel toe te gaan om kos te koop.

Rufus/image113.jpg
Rauchfangkehrers

Benoud, die Rauchfangkehrer kom!

            Eendag by die huis was daar ‘n kennisgewing opgeplak wat sê ons moes die volgende dag tuis bly want die Rauchfangkehrer sou kom. Ek het my boeglam geskrik en my verbeelding het op loop gesit. Wat sou dit tog wees, ‘n mens kon skaars die naam uitspreek! Soos aangekondig, klop daar toe die volgende dag iemand aan die deur. Ouma en ek het maar versigtig oopgemaak. Ek is nie skaam om te sê ek het agter haar rok weggekruip nie maar ek het myself manhaftig gehou en darem hard geknor. Dit was toe twee mans met pikswart klere en sulke spierwit dophoedjies op en met goed wat soos langsteelbesems lyk oor hulle skouers. Hulle is na ons kaggel toe en het in die kaggel opgekyk. Toe het ek en Ouma besef dis skoorsteenveërs! Die prentjie wys Rauchfangkehrers wat aan ‘n marathon in Wien deelneem

In Wien besoek hierdie Rauch (rook) fang (vang) kehrer (veër) elke huis tweekeer per jaar om te sien of die skoorstene skoon is en of die gasapparaat wat die water warm maak, goed werk. In Wien moet elke huis ‘n skoorsteen hê, al het dit nie ‘n kaggel of ‘n stofie nie. Dit is ‘n wet wat gemaak is in die oorlogtyd toe daar nie gas of elektrisiteit was nie en mense van die honger en koue doodgegaan het. As dit weer sou gebeur, kan die mense hulle dan self met ‘n stofie of kaggel verwarm of kos kook. Klink vir my ‘n bietjie outyds! Maar nouja, die Wieners het uit baie swaarkry geleer!

 

            ‘n Mens kan natuurlik nie aan Wien dink sonder twee belangrike dinge nie, die Donaurivier en die Wienerwald.

Rufus/image115.jpg
Worshond op die Donau

Die Blou Donau

Die Donau ontstaan in die pragtige en geheimsinnige Swartwoud in Duitsland wat beroemd is vir die Koekoekklokke wat hulle daar maak. Dit is die tweede grootste rivier in Europa. Kan jy glo dit is amper 3000 km lank, so ver as van Pretoria na Kaapstad en weer terug! Dit is ‘n baie groot en besige rivier, sal ons nou maar sê in heeltemal ‘n ander klas as ons ou Apiesriviertjie! Groot passasiers- en vragbote vaar heen en weer van Ulm in Duitsland, deur Oostenryk, en ander lande met vreemde name soos Slovakië, Hongarye, Serwië, Kroasië, Bosnië, Slovenië, Bulgarye, Romenië en Ukraïne tot in die Swartssee. As ek die vreemde name hoor, word ek so nuuskierig en wonder hoe lyk al hierdie lande, wat se soort mense woon daar, is daar worshonde?

Rufus/image116.jpg
Bote op die Donau

In die outyd het die rivier soos ‘n slang deur Wien gekronkel en gereeld die stad oorstroom, veral as dit ‘n kwaai winter was en die ys en sneeu begin smelt. Net nadat die mense die Suezkanaal in Egipte baie jare gelede gegrawe het, het die Wieners die stoomskoppe gehuur om die Donau reguit deur te grawe om die oorstromings te probeer verhoed. Die gevolg was dat die Oustad toe skielik ver van die rivier was. Daar is vandag nog ‘n kerk met die naam van Maria am Gestade (Maria op die strand) alhoewel  die rivier nou kilometers weg is! Maar dit het nie die oorstromingsprobleem opgelos nie. Hulle moes toe nog ‘n tweede rivier grawe langs die ander een met ‘n lang dun eiland, die Donauinsel, van 20 km lank, tussenin. Die nuwe rivier noem hulle die Entlastungsgerinne (snaakse naam!) of sommer die nuwe Donau en dit is gewoonlik toe met sluise wat net oopgemaak word as daar groot oorstromings is. Die eiland het baie populêr geword as ‘n ontspanningsplek en vandag sien ‘n mens naweke duisende mense wat met en sonder honde skaats, fietsry, op skaatsplanke ry, draf of net in die son lê. In die winter ski hulle op die eiland as daar lekker sneeu is.

Rufus/image119.jpg
Die Donau met die Entlastungsgerinne en sy sluise en die begin van die Insel

‘n Mens kannie glo dat hierdie groot rivier in die winter heeltemal toevries met die ys so dik dat jy daarop kan loop en met ysskaatse kan ry nie. In die outyd was daar baie arm mense wat ’n bestaan daaruit gemaak het om in die winter dik ysblokke uit die rivier te saag en dit dan in houthuisies te bêre wat met strooibale uitgelê was. Hierdie ys het behoue gebly tot aan die begin van die somer en die arm mense het dit verkoop aan restaurante om hulle kos koud te hou – dit was in die dae voor yskaste!

 As jy al ooit gewonder het oor die “blou” in “Blou Donau”, die beroemde wals wat deur Johann Strauss geskryf is, kyk maar net na die foto van die Donau met die Entlastungsgerinne en die begin van die Donau Insel hieronder!

Die Wienerwald – my Gunsteling Plek

            Dan is daar natuurlik die Weense Woud of Wienerwald soos die mense daar sê. Wat kan ‘n mens sê van so ‘n wonderlike woud – geen ander stad in die wêreld het so ‘n groot en pragtige woud wat hom omring nie! Verlede jaar het die mense die Wienerwald se duisendjarige verjaardag gevier – dit is natuurlik ouer maar dit is die eerste keer so genoem in dokumente wat ‘n duisend jaar gelede opgestel is.

  

Hier kan ‘n mens winter en somer gaan stap en die natuur geniet. Die Wieners ry sommer met die bus en gaan stap die heeldag daar rond, netjiese ou tannietjies met hulle hoedjies, handsakkies en kierietjies of ou ooms met leerbroeke en sulke klein hoedjies met vere op of fiks fietsryers met hulle bergfietse op die fietsrypaadjies wat 800 km deur die bos kronkel.

Rufus/image120.jpg
Toestel wat Marders verdryf

 

Maar dit was nie altyd so nie. In die outyd was die mense maar skrikkerig vir die woud en het dit vermy omdat hulle so bygelowig was – hulle het die bog geglo dat daar allerlei bose geeste in die donker woud woon. Al wat miskien destyds gevaarlik was, was die bere en wolwe wat daar gewoon het – maar dié is lankal verdryf of doodgeskiet. Die enigste gevaarlike dier, as ‘n mens dit so kan noem, wat nog daar woon, is die Marder (ek dink ‘n mens noem dit ‘n marter in Afrikaans), ‘n diertjie omtrent so groot soos ‘n meerkat. Hy is gevaarlik, nie omdat hy mense of honde aanval nie, nee hy val motors aan! As jy jou motor in die woud parkeer, gaan stap en later wil terugry huis toe maar jy kan nie die motor aan die gang kry nie, moet jy weet ‘n Marder het hom beet gehad! Hulle klim van onder in die motor se enjin in en vreet al wat ‘n rubberpyp of vonkpropdraad is, af. ‘n Mens koop ‘n spesiale toestel wat jy in die kar sit om dit marderproef te maak.

Ek het gelukkig nooit ‘n Marder teëgekom nie maar kan so goed onthou hoe mooi die woud is met die berke- en beukebome en ander wat ek nie ken nie, die voëltjies wat uit volle bors sing, die Bärlauch onder die bome wat na knoffel ruik en wat die Wieners in hulle slaaie gebruik en die pragtige blomme en vlinders. Ander plekke is die bos weer stil, geheimsinnig en donker, so donker ‘n mens moet jou motorligte helderoordag aansit as jy daardeur ry. Ons het dikwels sommer net gery tot op ‘n plek waar ons die motor kon parkeer en dan gaan stap – dit het partykeer gevoel of ons die enigste lewende wesens op die aarde was, so stil en sonder mense met net die blare wat onder jou voete kraak! Partykeer het ek my boeglam geskrik as ‘n vuursalamander skielik onder die blare voor my uitspring.

 

Click vir Groot
Rufus/image123.jpg
Vuursalamander

Rufus/image125.jpg

Ander kere het ‘n mens geheimsinnige geluide in die eensame bos gehoor wat jou ruggraat laat kriewel het. Dan het jy gedink aan wolwe en bere en sulke gevaarlike goed,  maar gewoonlik was dit maar net die Wildschweine of bokkies wat daar in groot getalle woon. Of jy loop in die woud en skielik doem daar ‘n ou romantiese kasteel voor jou op, waarvan party  800 tot 900 jaar oud kan wees. Van die baie dinge in Wien waarna ek die meeste verlang is die Wienerwald seker die eerste op my lysie.

Maar die wilde diere het nie net in die woud gebly nie! Wildschweine, jakkalse, Dachse (iets amper soos ons ratels, net kleiner) en ander diere het snags in ons buurt rondgeloop. Ek kan onthou hoe Oupa een oggend geroep het om te kom kyk na die gat wat onder deur ons heining in harde gruis gegrawe is -  net ‘n Dachs met sy sterk kloue kon dit doen! So vinnig as wat Oupa die gate toegestop het, is dit weer oopgegrawe maar ons kon nooit die skuldige betrap nie, dit was  altyd in die middel van die nag gedoen. Ek moet sê dit het my nogal kriewelrig laat voel om te weet geheimsinnige en onbekende diere sluip in die nag in ons tuin rond. Sê nou maar die ding raak aan die slaap onder ‘n bos en ek kom onverwags in die dag op hom af! Ek sou my doodskrik en dit sou gladnie goed wees vir my hart nie – jy weet mos ek drink hartpille, dan nie? Ek het eers later uitgevind ons Worshonde is spesiaal geteel om Dachse te vang, dis hoekom ons Dachshunde is! Maar ek is seker dit was vir die outyd bedoel en nie vir nou nie.

Rufus/image128.jpg
Foto van n Dachs wat teen die koue gaan skuil het

Siektes en Stywe Bene            Die hartpille het die veearts, Dr. Med. Vet. Herbert Krempl van Tierambulanz Heiligenstadt (om nou sy volle titels te noem, waarop die Wieners baie gesteld is)  vir my voorgeskryf. Hy was net om die draai in Probusgasse en ons het dikwels daarheen gegaan om pille te kry en om  my spesiale, duur  kos te gaan haal. Sy praktyk was mooi reggemaak met ‘n indrukwekkende ondersoektafel wat hidroulies op en af kon lig, X-straalapparaat bokant die tafel en so aan. Sy wagkamertjie was maar klein en het altyd vol mense gesit wat  te graag met almal wou gesels wat daar inkom om te hoor wat verkeerd is met sy troeteldier. Van troeteldiere gepraat, dit was gewoonlik ‘n versameling van hase, altyd skilpaaie, Meerschweinchen (marmotte), katte en honde. Die klein wagkamertjie met sy versameling van diere was natuurlik te veel vir ou Jakkie as ons hom veearts toe geneem het. Hy het vir alles geblaf en geknor, dan het die Wieners ons so uit die hoogte gesteurd aangekyk – hulle hou van orde en is nie gewoond aan sulke ongemanierde Boerehonde nie. Dan moes die Oumense hom maar na buite toe uitneem en deur die venster loer wanneer dit hulle beurt was  om in te gaan.


Universiteitskliniek

Hierna het ek met my een been begin probleme kry, dit het uit die potjie gespring en was dan baie seer en ek kon nie loop nie. Dan moes Oupa my maar weer terugneem na dr Krempl toe wat dit moes terugsit in die potjie in – seer!!! Omdat dit weer en weer gebeur het, het hy naderhand my hele voorpoot in gips gesit en ek moes vir 10 dae met die stywe been loop. Aan die begin het dit baie gesukkel maar later het ek goed reggekom. Toe die gips verwyder is, het dit beter gegaan maar die been het tog partykeer weer uitgespring. Gelukkig het Oupa gekyk hoe dr Krempl die been terugsit in die potjie en kon hy dit naderhand self doen. Ek onthou met Kersfees was Elma en Lilla by ons en hulle het vir my ook toegedraaide geskenkies onder die kersboom gesit. Ek is mal daaroor om pakkies oop te maak soos jy seker weet. Omdat dit vir Elma so oulik was as ek die geskenkies so oopmaak, het sy toe elke aand vir my een gemaak. Een aand het dit so woes gegaan met die oopskeurdery dat my been weer uit die potjie gespring het. Elma het sommer begin huil. Gelukkig kon Oupa die been inkry maar dit was die einde van my geskenkies!


Wagkamer vir siek honde

My twee Wit-Wollie- Maatjies

            In Wien het ek natuurlik ook my twee Boerevriendinne Snuffie en Terrie Potgieter ontmoet wat by oom Schalk en tannie Fransie gewoon het. Hulle is nou wel Maltese Poedels maar ons het baie goeie vriende geword. Wanneer Oupa en Ouma iewers moes heen, soos Frankryk, Holland of Tsjeggië, dan het ek by hulle gebly en wanneer hulle Oumense van die huis weg was, het die twee by ons gebly, eenkeer vir ses weke. Snuffie is ‘n bietjie streng en nie lus vir nonsens nie maar Terrie is ‘n malkop en ons het lekker saamgespeel – toe was ek nog baie fikser as nou. In hulle tuin was daar ‘n gat in die grasperk waarin ‘n onbekende dier gebly het – ons kon nooit uitvind wat nie. Maar dit was groot sports om daar rond te snuffel en te sit en wag as die ding miskien sou uitkom. Ons het ons dapper gehou maar dis ook miskien maar goed dat daar nooit iets uitgekom het nie – ek weet nie wat ons sou doen nie! Arme ou Snuffie is baie lief vir oom Schalk en aan die begin as die twee by ons afgelaai is, het sy ‘n hele week lank op die bank se leuning gesit en aanmekaar na die voordeur gekyk wanneer oom Schalk dan terugkom. Eers na so ‘n week by ons het sy begin ontspan.


Terrie en Snuffie

My Groot Hartseer -Jakkie en Ma Katryn gaan na die Hondehemel

            Toe Ma Katryn en ou Jakkie in Wien aangekom het, was hulle altwee al taamlik oud. Ouma en ou Jakkie het baie in die buurt rondgeloop maar die ou het maar met sy gesondheid gesukkel. Na die petalje met Burg het hy nooit weer heeltemal reggekom nie. ‘n Mens kon sien as hy maagpyn gehad het, dan het hy met sy voorbene so lank uitgestrek voor hom gestaan met sy agterstewe in die lug en sommer net lank so bly staan. Dan was dit maar altyd terug na dr Krempl toe. Maar eendag was hy baie siek, dit het gelyk of hy nie kan sien en sy bene en lyf het so styf geword. Oupa-hulle het hom weer na dr Krempel toe geneem maar hy het nie weer teruggekom nie. Ouma het baie gehuil en ek het toe maar twee by twee gesit en geweet ons sal hom nooit weer sien nie.

 

Ma Katryn het ook met haar hart probleme gehad nes ek en het ook hartpille gedrink. Maar sy was altyd so statig en waardig ‘n mens kon nooit iets aan haar agterkom nie tot in die baie warm somer van 2002. Sy het partykeer sommer net skielik omgeval, so ‘n rukkie gelê en dan weer orentgekom. Dan het dit gelyk of sy nie weet waar sy is nie. Die Oumense was baie bekommerd want hulle sou na Suid-Afrika gaan vir tuisverlof. Hulle het haar omtrent elke dag na dr Krempl toe geneem maar eendag het hulle sonder haar teruggekom met rooi gehuilde oë en hulle kon nie praat nie. Toe het ek geweet sy was nou ook by my ou Boetie Plesier, daar waar alle liewe honde heengaan. Dit was vir my vreeslik want ek was baie lief vir haar. Al wat draaglik was, was dat ek vanaf daardie dag by die Oumense in die bed kon slaap omdat ek vir die eerste keer in my lewe heeltemal alleen was. Dit was veral lekker in die winter wanneer dit nog koud en donker was om in die bed te bly lê nadat die Oumense opgestaan het. Dan kon ek lekker warm en rustig na die mooi musiek op Radio Stefansdom luister.   In Wien was die bed lekker groot maar terug in Pretoria op ons bed, ou Baberton, is daar baie minder ruimte en ek kry dikwels ‘n elmboog op my lyf in die middel van die nag. Dan kla die Oumense ook nog dat ek al die plek opneem.

Rufus/image136.jpg
Die hart van Wien

Wien en die Wieners

 Wien, die plek van Stories, Stories, Stories

As ek op ‘n plek kom, wens ek altyd ek weet wie het almal daar gewoon, wat het hulle alles gedoen en beleef, hoe het die plek oorspronklik gelyk, hoekom lyk dit vandag so dit is? Party mense noem dit geskiedenis maar vir my is dit stories en stories en nogmaals stories!

             Naby waar ons in Wien gewoon het, is daar ‘n baie ou gebied waar die strate vir my die mooiste name het. Maak jou oë toe (ek weet net nie hoe jy dan gaan lees nie!) en laat jou gedagtes gaan as jy luister na die name; Rooileeustraat, Porseleinstraat, Buskruittoringstraat, Haanstraat, Turksestraat, Groenpoortstraat, Sesskimmelstraat, Strooihoekstraat, Oumoedertjiestraat, Swaardvegterstraat, Vlugstraat, Swartspanjaardstraat, Hemelpoorttrappe en dan natuurlik Rufstraat! Wat moes alles nie in daardie kol gebeur het dat die strate sulke wonderlike name gekry het nie? ‘n Mens se verbeelding hardloop sommer met jou weg. Was Rufstraat miskien na ‘n beroemde en vreeslose voorouer van my vernoem? (Eintlik maak ek ‘n grappie – Ruf beteken roep in Duits.) 

Rufus/image138.jpg
Stefansdom

Die Geheimsinnige Eerste Inwoners

Dit is een ding van Wien wat vir my wonderlik was – die stories! En is daar nie baie nie, dit hou net aan en aan!

 

Eers het die Kelte lank voor  Christus se geboorte daar gewoon. Hulle was ‘n geheimsinnige, bakleierige klomp, kort mense met rooi of donker hare wat die hele Europa, en wat vandag Engeland is, vol gewoon het. Vandag is hulle afstammelinge die Iere, Walliesers en Skotte in Engeland en die Baske in Spanje, nog steeds maar baie bakleierig! 

 

In die tyd toe Christus geleef het, het Romeine die plek beset om hulle handelsroetes te beskerm en die stad Vindobona genoem. Hulle is dikwels deur rondtrekkende Germaanse stamme aangeval en die stad is dikwels verwoes waarna dit maar weer opgebou is. Dit gebeur vandag nog dat as die mense in Wien begin grawe, hulle dikwels op netjiese Romeinse huise, strate en ander geboue van tweeduisend jaar gelede afkom! Die Romeine is uitendelik uitgejaag waarna die stad vir seshonderd jaar van die een groep na die ander oorgegaan het. Dit moes ‘n tyd van groot swaarkry en chaos gewees het.

 

Daar was baie van die Germaanse stamme. Onder hulle was die Gote, Lombarde, Vandale, Hunne, Aware en Franke. Een van die stamme wat die Romeine baie moeite gegee het, was die Barbare, woeste manne van wie ons vandag nog die woord barbaar het!

Rufus/image140.jpg
Binne in die ou Stefansdom

Die Babenbergs

Omtrent so ‘n duisend jaar gelede het die Babenberg familie die plek oorgeneem en as konings vir amper driehonderd jaar regeer. Vandag het die meeste lande in die wêreld demokratiese regerings wat beteken die gewone mense stem vir dié wat hulle in die parlement wil hê. Mense kan ook vandag grond en huise en besighede besit. Maar in daardie tyd het alles aan die konings, die adelikes en die Katolieke Kerk behoort. Die boere en arbeiders was amper soos slawe wat vir die heersers gewerk het en net klein gedeeltes van hulle oeste vir hulle self kon hou, en dan moes hulle nog allerhande soorte belasting betaal. Van die belangrikste Babenberg konings was Heinrich Jasomirgott, wat so genoem is omdat hy altyd gesê het “Ja so mir Gott helfe” wat beteken “Ja God sal my help”. 

 

Dan was daar die koning met die indrukwekkende naam Leopold die Glorieryke. Hierdie Leopold het Wien omring met ‘n hoë, massiewe muur met ses poorte wat die mense teen vyande moes beskerm. Die muur het 19 torings gehad waarop wagte op die uitkyk vir enige vyande was. Die Stefansdom was reg in die middel – ja die ou Stefansdom as al meer as 800 jaar oud! Hierdie muur met sy poorte en torings is jare gelede afgebreek maar die mense praat nog steeds van Schottentor (Skotse poort), Salztor (soutpoort), Stubentor (kamerpoort) en daar is ook nog ‘n Rotenturmstrasse of te wel Rooitoringstraat!

 

Baie mense noem die ou Stefansdom die hart van Wien. In hierdie prentjie hier bo kan julle sien hoekom.

Rufus/image143.jpg

Vir agthonderd jaar  het die ou kerk die smarte en vreugdes van die Wieners meegemaak. Aan die begin toe daar nog min mense in Wien was, is almal binne die kerk onder die vloer begrawe maar naderhand het dit onprakties geword. Vir die gewone mense het die Stefansdom ook ander gebruike gehad. As hulle gedink het ‘n handelaar het hulle gekul oor die lengte van die materiaal vir klere wat hulle gekoop het, kon hulle die materiaal gaan meet aan ‘n staaf wat aan die kerk vas gemessel was. Of as hulle gedink het die brood wat hulle gekoop het, was te klein, kon hulle dit gaan meet aan ‘n opening in die muur. Wee die bakker wat te klein brode verkoop het! Hulle het hom in ‘n hok gesit en’n paar keer in die Donau gedompel!

Wat vir my mooi is, is dat daar op twee plekke in die Stefansdom afbeeldings van hondjies is, een waar ‘n klein “shaggy” hondjie  langs sy biddende baas, Martin Keckmann, sit. Dit is baie merkwaardig want honde is altyd as onrein diere beskou wat nie in kerke hoort nie.

Rufus/image145.jpg
Neue Burg (Nuwe Kasteel)

Die Habsburgs neem oor

Na die Babenbergs het ‘n ander familie oorgeneem, die Habsburgs. Hulle het vir amper sewehonderd jaar geregeer en het al hoe magtiger geword. Hulle het naderhand, behalwe Oostenryk, Hongarye, die grootste deel van Pole, Slovakië, Tsjeggië, Nederland, België, Spanje, Bosnië, Serwië en dele van Duitsland en Italië besit. Dan het hulle ook groot besittings in Noord- en Suid-Amerika gehad. Hulle was baie slim. Omdat oorloë baie duur was, het hulle nie hierdie gebiede probeer verower nie, nee hulle het gesorg dat hulle met die regte mense getrou het, met prinse en prinsesse wat grond in ander lande besit het. So het hulle op ‘n goedkoop manier al ryker en al magtiger geword! In die museum van die Hofburg kan vele skatte van die Habsburgers vandag nog gesien word soos krone met die pragtigste juwele van onskatbare waarde.

 

Rufus/image148.jpg
Hofburg

Kon die Habsburgs vir jou paleise en kastele bou! In Wien het hulle in die winter in die Hofburg gewoon en in die somer in Schönbrunn. Dan het elkeen van hulle nog sy eie deel aan die Hofburg aangebou, so dit het oor die jare net gegroei en gegroei. Die familie het omtrent ook nog in elke ander groot dorp of stad in Oostenryk nog paleise gebou. Vandag woon niemand meer in die paleise nie en dit kos geweldig baie om dit in stand te hou. Schönbrunn alleen het amper 1500 kamers! Gelukkig besoek miljoene toeriste elke jaar die paleise en kan die geld wat hulle vir toegang betaal, gebruik word vir die instandhouding.

            Van die meer interessante Habsburgs was sekerlik die Keiserin Maria Theresa en Keiser Franz-Josef en sy mooi vrou Keiserin Elizabeth waarvoor die mense baie lief was en haar Sisi genoem het.

 

Rufus/image146.jpg
Schönbrunn

Maria Theresa, ‘n GROOT en geliefde Keiserin

            Maria Theresa is nooit as ‘n Keiserin gekroon nie – haar man was die Keiser maar hy het gladnie belanggestel om te regeer nie, net om geld te maak. Toe het sy maar die pligte van die Keiser op haar geneem en dit uitstekend gedoen.

 

Keiserin Maria Theresa het 16 kinders gehad – kan jy dit glo! Ek glo nie sy kon almal se name onthou nie! Haar geliefkoosde woonplek was Schönbrunn Paleis. Hier het die kleine Mozart van die musiek wat hy self geskryf het, vir haar gespeel toe hy maar net ses jaar oud was. Mozart kon musieknote skryf voordat hy die alfabet kon skryf en het as wonderkind die hele Europa deurgereis saam met sy Pa en musiekuitvoerings gegee.

Rufus/image150.jpg
Maria Theresa se Rooskamer

 Maria Theresa was baie geliefd onder die mense en was ‘n baie goeie Keiserin. Sy het baie gehou van geel en tot vandag toe nog is Schönbrunn geel geverf en baie ander geboue in Wien ook – Maria Theresa geel.

 

Maria Theresa het een swakheid gehad - sy was baie lief vir lekker eet! Hulle vertel haar dokter, Graaf van Swieten, was eenkeer so kwaad toe hy sien hoeveel sy geëet het, dat hy ‘n emmer laat haal het. Hy het porsies van elke dis op die tafel daar in gegooi, bier, wyn en koffie daaroor gegooi, dit geroer en vir Maria Theresa gewys en gesê: “So lyk dit in u maag Majesteit – lekker eet!” Dit het die regte uitwerking gehad en sy het van toe af meer gebalanseerd geëet. Nogtans het sy  toe sy ouer geword het al hoe meer geset geraak, jy kan maar sê naderhand so groot soos ‘n bus. Wanneer sy na haar man se graf in die kelder van die Kapuzinergruft (‘n kerk) gegaan het, moes hulle haar met toue in die gebou laat afsak, sy kon nie meer trappe klim nie!

Rufus/image152.jpg
Kapuzinergruft

So van die Habsburgs se grafte gepraat. Hulle het baie snaakse idees gehad want na hulle dood is hulle liggame in die kelder van Kapuzinerkerk in versierde metaalkiste begrawe, hulle harte in die Augustiner Kirche en nog ander dele van hulle liggame  in ‘n derde kerk! Wanneer ‘n Habsburger in die Kapuzinergruft begrawe is, het die mense met die kis by ‘n toe deur gekom. Dan het hulle geklop en die monnik binne het gevra wie dit was. As hulle gesê het “Die Keiser” dan het die deur toe gebly. Dan het hulle weer geklop en die monnik het weer gevra wie dit was. “Die Koning” het die mense geantwoord en die deur het toe gebly. Vir ‘n derde keer het hulle geklop en is gevra wie is dit? As hulle dan gesê het  “’n Arme sondaar” is die deure eers oopgemaak.

Rufus/image156.jpg
Eerste (arme!) Kameelperd in Wien

‘n Goeie Plan van Maria Theresa se Man

            Die Wieners was altyd lief vir diere van allerhande soorte. Een van die eerste Habsburgs, met die naam Keiser Maximillian, het van Spanje na Wien (heelwat verder as van Pretoria na Kaapstad dink ek) gereis om as Keiser gekroon te word. Maar hy het nie alleen gereis nie, hy het sy olifant saamgeneem! Die Wieners het in daardie dae, sowat 500 jaar gelede, nog nooit ‘n olifant gesien nie en was baie beïndruk toe Maximillian en die olifant saam deur die Switserse Poort van die Hofburg ingestap het. Ongelukkig is die arme olifant na ‘n jaar dood. Tot vandag toe nog dra baie restaurante en herberge wat op Maximilian se lang pad van Spanje tot in Wien gelê het, die naam “Zum Elefanten”.

            Maria Theresa se man, Keiser Franz-Stefan, het omtrent  twee honderd jaar na Maximillian besluit om ‘n dieretuin te laat bou in die tuin van Schönbrunn wat toe pas klaar gebou was. Hy en Maria Theresa het daarvan gehou om in die oggend in die paviljoen in die middel van die dieretuin hulle ontbyt te geniet. Hierdie dieretuin was verlede jaar 250 jaar oud en is die oudste dieretuin in die wêreld!

Rufus/image154.jpg
Die Keiserlike Pawiljoen in Schönbrunn

Rufus/image158.jpg
Keiser Franz-Jose

Die Langasem Keiser Franz-Josef en die Mooie Sisi

            ‘n Ander goeie Keiser was Keiser Franz-Josef, na wie ons hotel in Grinzing vernoem is. Hy was vir 68 jaar lank die Keiser – ongelooflik, baie mense word nie eers so oud as wat hy Keiser was nie. Hy het baie dinge in sy leeftyd laat doen, so is die ou muur om die stad afgebreek en ‘n groot pad, die Ringstrasse, in die plek van die muur gebou. Baie nuwe geboue is opgerig, onder andere die Staatsoper, die operagebou wat vandag wêreldberoemd is. Hy was getroud met Elizabeth, ook Sisi genoem. Baie mense het geglo sy was die mooiste vrou in die wêreld. Sy was baie lief vir perdry en het in daardie dae al, toe niemand nog aan so iets gedink het nie, haar eie gimnasium in die paleis gehad.

            Keiserin Sisi was ‘n prinses uit Beiere wat in Duitsland is. Haar neef Ludwig was Koning van Beiere maar baie mense het gedink hy het nie al sy varkies bymekaar gehad nie. Nietemin het hy ‘n klomp van die pragtigste sprokieskastele gebou soos die een in Neuschwanstein.

Rufus/image161.jpg
n Jong Keiserin Elizabeth (Sisi)

            Arme Sisi het ten spyte van al die roem en skoonheid ook maar baie hartseer ervaar, haar enigste seun wat Franz-Josef as Keiser sou opvolg, is onder geheimsinnige omstandighede dood toe hy nog jonk was. Haar neef, Koning Ludwig het een aand alleen in die maanlig in ‘n bootjie op die meer gaan roei, die bootjie het omgeslaan en hy het verdrink. Toe Sisi eenkeer op reis was in Switserland, het ‘n versteurde man haar met ‘n skerp voorwerp doodgesteek. Sy is in die Kapuzinergruft begrawe en tot vandag toe sit die Wieners elke dag vars blomme op haar graf. Dit is nou maar so dat roem, rykdom en skoonheid jou nie gelukkig kan maak nie!

Rufus/image157.jpg
Neuschwanstein in Beiere

            ‘n Kort rukkie na Franz-Josef se dood in 1918 het die oorheersing van die Huis van Habsburg na omtrent 700 jaar uiteindelik tot ‘n einde gekom. Omdat Franz-Josef nie ‘n lewende seun gehad het nie, het sy neef Karel die keiser geword. Maar na Franz-Josef se dood was daar groot moeilikheid in Oostenryk en Keiser Karel het maar baie kort regeer en was die laaste Keiser. Hy en sy familie is uit die land verban en hy is baie jonk dood in die buiteland. Oostenryk het ‘n Republiek met ‘n President geword en die eiendomme van die adelikes is afgevat en al die adelike titels soos Prins, Graaf, Hertog, Baron, ens is verban. Ten spyte daarvan, is daar vandag nog omtrent 500 Habsburgs oor! Een van hulle, Karel, wat ‘n kleinkind is van die laaste Keiser, het anderdag ‘n eis teen die Staat ingestel van meer as R 2000 miljoen vir kastele, woude en stukke grond wat van hulle weggeneem is. Ek dink as die Staat dit aan hom teruggee is Oostenryk bankrot!

 

            Twee ander dinge het ‘n groot invloed op Wien gehad in die outyd – die vreeslike peste en plae wat daar van tyd tot tyd gekom het en die Turke wat tweekeer probeer het om Wien te verower.

 

Rufus/image162.jpg
Turkse Sipahis

Outydse Peste en Plae

Dokters verstaan vandag baie beter waar siektes vandaan kom en hoe om mense gesond te maak. Maar dit was nie altyd so nie. In Europa het daar dikwels in die outyd epidemies soos builepes uitgebreek sonder dat die mense werklik geweet het wat die oorsaak was en wat om te doen om die mense gesond te kry. So het daar omtrent 300 jaar gelede, net nadat Jan van Riebeeck hier in die Kaap aangekom het, ‘n groot pesepidemie in die hele Europa uitgebreek, builepes wat deur rotte en vlooie versprei is.

 

In Wien alleen is daar omtrent eenhonderduisend mense dood. Die dooie mense het naderhand sommer in die strate gelê. Hulle kon nie voorbly om hulle te begrawe nie en baie is sommer in die Donau gegooi. Die mense het in groot getalle uit die stad gevlug en eers weer na ‘n jaar teruggekom toe die pes begin bedaar het. Die Keiser het toe uit dankbaarheid ‘n Pestsäule (‘n monument) opgerig in 1682. Dit wys waar die Keiser op sy knieë staan en bid om dankie te sê dat die pes verby is. Die suil of pilaar staan tot vandag toe nog in een van die strate in die Oustad, die Graben. Gelukkig is ons vandag van sulke dinge gespaar, maar nouja, ander siektes het weer die plek van die ou peste ingeneem.

 

Rufus/image163.jpg
Kara Mustafa Pascha

Die Turke val aan

            Of al die peste en plae nie genoeg was nie, het die Turke Wien ook tweekeer aangeval, so 150 jaar uit mekaar. Die Turke, wat ook die Ottomane genoem was, het destyds‘n groot ryk gehad  wat vir meer as 600 jaar bestaan het. Vandag is Turkye nie meer baie belangrik nie. As jy dink fanatiese Moslems en iemand soos Bin Laden is iets nuuts, dink weer! Die Ottomane was super-fanaties en wou die Christendom in Europa tot niet maak, seshonderd jaar gelede al!

 

            Die Ottomanse leër het bestaan uit ruiters (sipahis genoem) op vurige Arabierperde. Hulle het diervelle omgehang en die vlerke van roofvoëls op hulle rûe vasgebind – vreesaanjaend! Die voetsoldate was jannisaries genoem. Die soldate met hulle lang, swart hangsnorre, tulbande en pofbroeke was wreed en vreesloos en veral die ruiters met hulle vinnige perde en krom sabels was baie gevreesd. Oupa het van hulle wapens in ‘n museum in Wien gesien en kon nie glo dat die puik wapens al driehonderd jaar gelede gemaak is nie.

 

            In 1683 het die Ottomane besluit dat dit nou tyd was om Wien finaal te verower en die Christendom te vernietig. Hulle leier was Kara Mustafa. Soos die leër opgeruk het na Wien, is alle dorpe en veral kerke verwoes. Naby Wien het die Oumense in ‘n baie ou kerk ‘n fakkel gesien wat die Ottomane destyds in die kerk gegooi het om dit aan die brand te steek. Gelukkig het die fakkel doodgegaan en vir die afgelope driehonderd jaar al bewaar die mense die fakkel in ‘n glaskas in die kerk.

            Toe die Keiser en die adelikes hoor die Ottomane is op pad, het hulle uit die stad na ‘n veilige plek gevlug. Die Ottomane het by Wien aangekom en die stad omsingel.

Daar was tweehonderdduisend Ottomane rondom Wien (dis nou omtrent vierkeer soveel mense as wat Loftus volmaak as die Bloubulle speel) en net maar omtrent sewentienduisend soldate in die stad.  Nogtans was dit nie so maklik om die stad te verower nie omdat daar ‘n hoë, sterk muur om die stad was. Wat die leërs in so ‘n geval gedoen het, was om te sorg dat niemand in en uit die stad gegaan het om kos in te bring nie en om so te probeer om die mense in die stad uit te honger. Dan het hulle ook gedurig groot klippe oor die muur geskiet met goed wat soos groot ketties gewerk het (hulle het dit katapulte genoem), in die hoop om iemand te tref – Oupa het ‘n foto van so ‘n klip van omtrent 30 kg geneem wat ‘n mens vandag nog in een van die straatjies van Wien kan sien.

Rufus/image165.jpg
n Klip wat die Turke in 1683 oor die muur geskiet het

Die Ottomane het ook nog  probeer om met geweldige groot ontploffings gate in die muur om die stad te skiet. Hulle het drie keer daarin geslaag maar is elke keer teruggedryf as hulle deur die openings in die muur  die stad probeer instorm het. Onder die mure was dit ‘n miernes soos die Ottomane probeer het om tonnels onderdeur te grawe.  Hulle wou deur die tonnels in die stad kom maar wou ook plofstowwe daar sit om die mure op te blaas. ‘n Seuntjie wat vir ‘n bakker gewerk het, het een aand afgegaan na die kelder van sy huis wat naby die muur was. Hy het allerhande vreemde geluide gehoor soos van iemand wat grawe en het dit dadelik gaan rapporteer en sodoende ‘n groot katastrofe verhoed. Die Koning was so dankbaar dat hy die bakkers die reg gegee het om elke jaar op Paasmaandag ‘n optog te hou met baniere en musiek.

 

Maar dit was vir die mense van Wien baie duidelik dat hulle nie meer lank sou kon uithou om die stad te verdedig nie en daar het nog ook ‘n maagsiekte in die stad uitgebreek waaraan baie mense, insluitend burgermeester Liebenberg, dood is. Die Wieners het dringend hulp van buite nodig gehad! Hulle dink toe aan’n plan. Daar was ‘n Pool met die naam Kolschitzky wat lank ‘n handelaar in Turkey was. Hy kon baie goed Turks praat. Hulle vra hom toe om homself  soos ‘n Turk te vermom,  in die nag uit die stad te sluip en deur die Turkse soldate te glip om hulp te gaan ontbied.  Dit het hy reggekry en kon terugsluip na Wien om die uitgeputte mense te bemoedig met die nuus om net nog ‘n paar dae uit te hou, want die Poolse Koning Sobieski was op pad met tagtigduisend Poolse en Duitse soldate om te kom help.

Sobieski se soldate was op vinnige perde en het gou tot op Kahlenberg gekom waar hulle die Saterdag oorgebly en ‘n bietjie gerus het. Daar was ‘n monnik van Italië met die naam Marco d’Aviano wat op die Sondag in die kerk op Kahlenberg gebid het vir ‘n oorwinning oor die moslems. Net daarna het die Christensoldate die berg afgestorm deur die wingerde en die vyand aangeval. Die Ottomane het so groot geskrik dat hulle alles gelos het en holderstebolder begin vlug het. Maar het hulle goed agtergelaat! Omtrent 20 000 waterbuffels, beeste, kamele en muile en ook nog 10 000 skape en moenie praat van al die meel, suiker en olie nie. Maar dit was niks teen die diamante, robyne, safiere en pêrels nie en dan nog die mooiste pelsjasse wat aan Kara Mustafa behoort het. Hulle het ook tienduisende tente, gewere, swaarde en kanonne netso gelos. Van die wapens wat agtergebly het, is vandag nog na meer as driehonderd jaar in museums in Wien te sien, onder andere Kara Mustafa se pragtige geborduurde tent.

 

Die wrede Kara Mustafa het sy vrou en sy mak volstruis se koppe afgekap, want hy wou nie hê hulle moes in die vyand se hand val nie. Maar op pad terug na Turkye is Kara Mustafa self doodgemaak op bevel van die Sultan van Turkye omdat hy skande oor Turkye gebring het! Die Turke het daarna nooit weer probeer om Wien aan te val nie! ‘n Mens sidder om te dink wat sou gebeur het as hulle Wien verower het. Hulle sou die Christendom in Europa tot niet gemaak het, en nie net daar nie, want van Europa het die mense na Afrika, Amerika en ander lande  uitgegaan om die Christelike boodskap te verkondig.

 

Die Wieners het die brons van die baie Turkse kanonne wat agtergelaat is, opgesmelt en vir die Stefansdom ‘n enorme klok gemaak wat hulle die Pummern genoem het.

Die Pool, Kolschitsky, was natuurlik ‘n held in Wien. Die Keiser het hom gevra wat hy as ‘n beloning vir sy heldedaad wou hê. Toe hy vir die Keiser sê hy wil die baie sakke met groenerige bone hê wat in die Turkse tente agtergelaat is, was die Keiser baie verbaas – wat wou hy met díe goed maak? Hy het hom toe maar ‘n huis present gegee en gesê hy kan al die bone ook nog kry. Kolschitsky het, anders as die mense in Wien, geweet wat die groenerige bone was, omdat hy lank in Turkye gewerk het – dit was koffiebone wat destyds nog heeltemal onbekend in Europa was. Hy het die bone gerooster, dit gemaal en ‘n koffiehuis oopgemaak. Die koffie was ‘n bietjie bitter vir die Wieners en Kolschitzky het dit met heuning en melk vermeng en dit het vinnig baie populêr in Wien geword. Hy het nog koffiehuise oopgemaak en het gou skatryk geword. Tot vandag toe is die Wieners nog mal oor hulle koffiehuise!

 

Maar die storie het nog ‘n ander stertjie. Die monnik Marco d’Aviano het van die koffie teruggeneem Italië toe en dit daar bekendgestel. Die Italianers was ook gaande oor die nuwe drank en omdat d’Aviano ‘n kapusynse monnik was (hulle dra so ‘n bruin rok met ‘n  kap, wat op Duits ‘n Kapuze is, wat hulle oor die kop trek) het die nuwe drank gou ‘n naam gekry – cappuchino!

 

Maar vandag is daar baie Turke in Oostenryk en veral in Duitsland. Die Rede? Die mense in die twee lande het te deftig geword om werk te doen wat hulle as minderwaardig beskou soos straatveërs, koerantverkopers en skoonmakers en Turke is ingevoer om die “vuilwerk” te doen. Vandag is daar omtrent in elke dorp in Duitsland ‘n moskee. Die moslems het miskien in 1683 die slag om Wien verloor, maar soos die mense sê, nie die oorlog vir Islam nie!

  

Rufus/image166.jpg
Hitler en twee van sy trawante

Nog ‘n Groot Oorlog, die Tweede Wêreldoorlog

            Toe Oupa omtrent so drie jaar oud was, het daar ‘n groot oorlog in Europa uitgebreek. Hulle het dit die Tweede Wêreldoorlog genoem. Die leier van Duitsland, Adolf Hitler, wat eintlik ‘n Oostenryker was, het oorlog verklaar teen die sterk lande Engeland, Frankryk en Rusland en ook teen ‘n klomp kleiner lande - later selfs teen Amerika - jy kan maar sê teen die res van die wêreld, net die Italianers en Japannese was aan sy kant.

Rufus/image168.jpg
Spieëlsaal

            Hitler wou graag ‘n skilder word en het as jongman in Wien aansoek gedoen by die Akademie vir Skone Kunste vir opleiding. Hy is tweekeer toelating geweier omdat hulle gesê het hy het nie talent nie. Omdat hy werkloos was, het hy toe met die politiek deurmekaar geraak. Hierin hy het vinnig gevorder en het gou die leier van sy eie party in Duitsland geword en later Kanselier. Sy sukses in die politiek het hom verwaand genoeg gemaak om die hele wêreld uit te daag – met voorspelbare gevolge. Dit was ‘n verskriklike oorlog waarin miljoene mense dood is. As die ou professor by die Akademie maar net vir Hitler as ‘n student aanvaar het, sou al hierdie mense se lewens gespaar gebly het. Om te dink dat ‘n enkele besluit soveel gevolge kan hê!

 

            Wien het natuurlik nie die oorlog gespaar gebly nie en Amerikaanse en Britse vliegtuie het derduisende bomme oral in Oostenryk en in Wien afgegooi. ‘n Vliegtuig wat Schönbrunn gebombardeer het, maar afgeskiet is, het reg deur die dak van die groot spieëlsaal in die paleis geval. Van die 300 bomme wat die Amerikaners op daardie besondere dag op Schönbrunn afgegooi het, het 200 die hokke van diere in die dieretuin getref. Na die oorlog was daar net 1500 van die oorpronklike 3500 diere oor!

Rufus/image170.jpg
Bomme uit n vliegtuig oor Wien

In Wiener Neustadt, waar ek self saam met die Oumense rondgeloop het, het hulle 50 000 bomme afgegooi – net 18 huise in die hele stad het ongeskonde agtergebly. Maar as jy vandag na die stad kyk, sal jy dit nooit sê nie, hulle het dit baie mooi reggemaak.

 

            Wien self het ook sleg deurgeloop onder die bomme, tagtigduisend wonings is vernietig. ‘n Mens kan nou nog na amper sestig  jaar die enorme bomkraters  tussen die bome in die Lobau, ‘n natuurgebied langs die Donau, sien. Selfs die arme ou Stefansdom moes deurloop en is op die laaste dag van die oorlog aan die brand geskiet. Voordat die dak inmekaargestort het, het die Wieners die meeste van die waardevolle goed uit gedra en gered. Wat hulle nie kon red nie was die Pummern, die ou groot klok. Die groot swaar klok het na benede gestort en in honderd stukke gebreek. Dit was ‘n groot slag vir Wien wat baie lief vir die ou klok wat oor die tweehonderd jaar oud was. Gelukkig het die Wieners die eeu-oue gekleurde vensters voor die tyd uitgehaal om dit teen die oorlog te beskerm en dit diep onder die grond in die katekombes weggesteek.

Rufus/image173.jpg
Ou geroeste bom wat onlangs uitgegrawe i

Baie van die duisende bomme wat destyds afgegooi was, het nooit ontplof nie en tot vandag toe nog, sestig jaar na die oorlog,  kry die mense soms so ‘n bom waar hulle uitgrawings vir geboue, spoorlyne en so aan maak. Hulle skat dat vandag nog gemiddeld sowat 2000 bomme per jaar oopgrawe word! Dan moet ‘n deskundige onder groot lewensgevaar die bom onskadelik maak, die hele gebied word afgesper en die verkeer kom vir kilometers tot ‘n stilstand. Partykeer is die ou bomme so onstabiel dat hulle ontplof wanneer die bomdeskundiges dit onskadelik probeer maak – nou die anderdag is daar weer ‘n man dood.

            Na die oorlog wat Hitler verloor het, het die Russe Oostenryk oorgeneem en vir nege jaar beheer. In die tyd het dit baie swaar met die Wieners gegaan. Hulle stad was flenters geskiet, hulle huise is vernietig, daar was nie kos nie, die mense was brandarm en die Russe was baie wreed. Vir die diere in Schönbrunn se dieretuin was daar natuurlik ook nie kos nie. Meeste mans was dood of was in krygsgevangenekampe. Die vrouens moes maar bedags met die voet na die Wienerwald toe loop om hout te gaan optel om kos gaar te maak of om hulleself warm te maak in die koue winter. Die Trümmerfrauen (Trümmer is puin) het hard gewerk, die puinhope weggewerk en stene en ander goed wat nog gebruik kon word, herwin.  Die stad is mettertyd deur ongelooflike harde handewerk weer opgebou tot die mooi stad wat dit vandag is.

Rufus/image174.jpg
Oostenrykse krygsgevangenes deur n Rus begelei in n Wien wat flenters geskiet is

Rufus/image176.jpg
Trümmerfrauen hard aan die werk

Omdat die Wieners die tagtigduisend wonings wat deur bomme vernietig is vinnig moes vervang sodat die mense plek kon hê om te woon, is die meeste van die geboue wat destyds daarvoor opgerig is maar lelik. Maar vir mense wat nie ‘n dak oor die kop gehad het nie, was dit ‘n groot uitkoms. Die Wieners het ook dadelik aan die werk gespring om die ou Stefansdom weer te herstel en dit was ‘n dag van groot vreugde toe ‘n nuwe groot klok gegiet is om die ou Pummern te vervang.

 

            Ek is nou maar net ‘n Worshond maar een ding verstaan ek nie. Hoekom maak mense oorlog? Derduisende soldate word doodgeskiet maar onskuldige vroue en kinders (en natuurlik ook honde en ander diere) moet ellendes en hongersnood deurmaak alhoewel hulle niks met die oorlog te doen het nie! En as alles platgeskiet is, dan bou die mense weer alles met groot moeite op. Nog ‘n ding wat ek glad nie verstaan nie is dat hulle bomme op ‘n diertuin gooi. Ek dink dit is alles baie wreed en sommer onnosel! Jy kan maar in die geskiedenisboeke lees, ons honde het nog nooit oorlog teen ander honde gemaak nie!

 

Rufus/image178.jpg
Goue Saal van die Musikverein

Wien se ander Naam is Musiekstad

            ‘n Mens kan nie aan Wien dink as jy nie ook aan musiek dink nie. Baie mense sê – en party van ons honde stem saam – dat Wien die musiekhoofstad van die wêreld is. Hier het nie net baie beroemde komponiste gewoon en gewerk nie, maar tot vandag toe is musiek baie belangrik. Ek het dikwels gehoor hoe die Oumense wonder, watter een van omtrent twintig musiekkonserte wat op een aand aangebied word, hulle wou bywoon. Ongelukkig is dit ‘n plek waar ons honde beslis nie toegelaat word nie – party van die hartseer soort sing glo saam as die orkes speel! Ai, maar ek wens tog so ek kon ‘n konsert in die Musikverein se Goue Saal bywoon. Elke jaar op Nuwejaarsdag speel die Weense Philharmoniese Orkes musiek van die Strauss-familie wat oor die hele wêreld op TV uitgesaai word – net nie in Suid-Afrika nie, kan jy dit glo!

Rufus/image180.jpg

            Ek het jou al vertel van Beethoven en Mozart maar daar was nog baie ander komponiste  wat musiek geskryf het. Van die vrolikste en mooiste musiek is deur die Strauss-familie geskryf. Die Pa was Johann en hy het ook ‘n seun met díe naam gehad. Dan was daar Josef en Eduard en so aan, ‘n baie talentvolle klomp. Die eienaardigste vir my is dat Pa Johann nie wou hê sy seuns moes musikante word nie. Sy twee seuns het albei elektriese ingenieurs geword, maar hulle Ma het Johann gesteun om musiek te studeer – by ‘n Weense leermeester wat in die Stefansdom gewerk het.

Spoedig het Johann sy eie orkes gehad. Josef wou nooit soos sy Pa en broer iets met musiek te doene hê nie, maar eendag word Johann skielik siek en vra toe vir Josef om asseblief sy orkes te dirigeer. Dit was die begin van sy musiekloopbaan! Hy het daarna meer as 300 van sy eie werke geskryf. Later het die ander broer, Eduard, ook bygekom. Dit lyk my musiek was in die Strausse se bloed! Johann, die seun, se walse was so populêr dat party mense sê sy Blou Donou-wals is eintlik Oostenryk se volkslied!

                                                                                                           Johann Strauss, seun

Rufus/image182.jpg

            Die komponiste wie se werk vandag nog gespeel word en waarvoor die mense baie lief is, het egter maar baie swaar gehad. Ek het jou al vertel van arme Beethoven wat so doof geword het. Wolfgang Amadeus Mozart die wonderkind het pragtige musiek geskryf op ouderdom van ses jaar en deur die hele Europa gereis en konsertopvoerings gegee. Mozart was ouer as Beethoven en het vir hom musiekklasse gegee. Hy is in die Stefansdom met Constanze Weber getroud vir wie hy baie lief was. In ‘n brief aan haar skryf hy “1 095 060 437 082 drukkies en soentjies vir jou”! Toe hy maar net 35 jaar oud was, het hy skielik siek geword en is binne ‘n paar dae oorlede. Daar is vandag nog mense wat glo dat hy deur ‘n jaloerse Italiaanse komponis wat in Wien gewerk het, Antonio Salieri, vergiftig was omdat sy musiek nie so gewild soos Mozart s’n was nie. Maar niemand weet of dit waar is nie.

 

Rufus/image184.jpg

          

            Mozart was brandarm toe hy gesterf het. Hulle het hom saam met ander arm mense op ‘n koue, nat en triesterige dag in ‘n gesamentlike graf vir armlastiges begrawe in die St Marx Friedhof. Daar was niemand by sy begrafnis nie – nie eers sy vrou nie! Constanze het later probeer uitvind presies waar hy begrawe is maar tot vandag toe nog weet niemand presies waar die graf is nie. Darem tragies vir ‘n mens wat deur baie beskou word as die mees begaafde komponis wat ooit gelewe het.

 

            ‘n Ander beroemde komponis van wie Oupa baie hou, was Franz Schubert. Hy was een van elf kinders van ‘n arm onderwyser en het op ouderdom nege leer orrel speel. nog. In sy leeftyd was daar nooit ‘n opvoering van sy musiek vir die publiek nie, partykeer net vir sy familie of vriende. Vandag is hy een van die belangrikste komponiste van alle tye. Party mense sê Beethoven se musiek is soos ‘n pragtige standbeeld wat deur ‘n beeldhouer met groot moeite uit harde rots gekap is, terwyl Schubert se musiek soos ‘n skildery is wat in vrolike kleure geverf is.

 

             Schubert was heelwat jonger as Beethoven en ‘n groot bewonderaar van hom. Toe Beethoven oorlede is, het Schubert ‘n fakkel gedra in die optog van 20 000 mense – so anders as Mozart se begrafnis. ‘n Jaar later, toe Schubert maar net 31 was – nog jonger as Mozart – is hy oorlede en soos hy gevra het, naby Beethoven begrawe.

 

Rufus/image185.jpg
Joseph Haydn

            Beethoven, Mozart en ook Schubert het hulle musiek by die grootmeester Joseph Haydn geleer. Hy was ‘n merkwaardige man.. Sy Pa was ‘n wamaker en sy Ma ‘n skropvrou in ‘n adelike se huis. Waar hy aan sy musiektalent gekom het, weet niemand nie. Hy het vir die grootste deel van sy lewe in Eisenstadt gelewe, waar hy die konsertmeester vir die adelike Hongaarse Esterházy familie was – vandag nog een van die rykste families in Europa met baie pragtige paleise. Hy het met tye ook in Wien gewoon en gewerk en is ook daar oorlede in ‘n huis naby Wien se groot inkopiestraat, Mariahilferstrasse. Die mense het hom sommer Pappa Joe genoem. Waar Beethoven en Schubert maar elk omtrent 9 simfonieë geskryf het, het Pappa Joe oor die 300 geskryf! Hulle sê dat omdat hy so ‘n slim man was, het ‘n dokter na sy dood sy kop gehou om sy brein te bestudeer. Maar sy kop het in Wien gebly agtergebly en is eers 145 jaar na sy dood met sy liggaam wat in Eisenstadt begrawe is, verenig! Grillerig, nie waar nie!

Rufus/image187.jpg
Esterházy Paleis

            Dan was daar die komponis Antonio Vivaldi. Hy was nie ‘n Wiener nie, hy is in Venesië in Italië gebore. Oupa sê altyd sy musiek klink soos wiskunde wat op musiekinstrumente gespeel word, netjies en presies.  Vivaldi, wat meer as driehonderd jaar gelede gebore is, het ‘n priester geword in Venesië. Hulle het hom die Rooipriester genoem weens sy rooi hare. In die prentjie hierby het hy ‘n pruik op soos die mense in daardie jare gedra het – hulle het gedink dis baie deftig.

 

 Hy het letterlik honderde musiekstukke geskryf waarna die mense gek was. Maar soos dit maar met mense gaan, het hulle naderhand moeg geraak vir sy musiek en hy het brandarm geword. Hy het toe na Wien gegaan om te kyk of die mense daar nie sy musiek meer sou waardeer nie, maar hy het skaars daar aangekom, of hy word siek en sterf.  Nes Mozart is hy ook in ‘n begraafplaas vir armlastige mense begrawe. Daarna het die mense vir 200 jaar Vivaldi en sy musiek totaal vergeet. Eers in 1922 is sy musiek weer heel toevallig ontdek! Toe hulle sien watter pragtige musiek Vivaldi geskryf het, het almal begin soek na die verlore musiek – tot vandag toe ontdek hulle nog van die stokoue manuskripte en Vivaldi se musiek verkoop vandag soos soetkoek!

Rufus/image189.jpg

            Dis vir my as ‘n Worshond darem baie eienaardig dat mense soos Mozart, Schubert, Vivaldi en nog baie ander gedurende hulle leeftyd nie na waarde geskat is nie, maar nou 200 tot 300 jaar nadat hulle dood is, word hulle musiek eers waardeer en verdien die musiek baie geld vir ander mense, nie vir die arme komponiste wat dit geskryf het nie!. Ek sal mense nooit heeltemal verstaan nie!

            Die begraafplaas waar die komponiste begrawe is, die Zentralfriedhof, is een van die grootstes in die wêreld. Daar is 3 miljoen mense begrawe, meer as al die lewende mense in Wien! Die plek is so groot dat dit sy eie busdiens het en daar is ‘n voltydse jagter wat die hase moet skiet wat die mooi blomme op die grafte opvreet!

.

In die winter is dit natuurlik ‘n ander saak en is die blomme en die begraafplaas maar ook toe onder die sneeu soos die res van die stad.

 

Rufus/image196.jpg

Rufus/image191.jpg
Mozart se gedenksteen

Rufus/image193.jpg
Beethoven se graf

Rufus/image198.jpg
n Fiaker op pad met toeriste

As jy wil, kan jy die koetsier vra om jou by een van Wien se baie koekwinkels af te laai wat hulle Konditoreie noem, waar die verskeidenheid so groot is dat ‘n mens skaars kan besluit wat jy wil hê. ‘n Mens kan inloer by Aïda, Gerstner, die Sacher Hotel of by Demel, aai hoe water my mond! Oupa se gunsteling was Apfelstrudel en Ouma en die dogters s’n, Sacher torte. Dis nou ‘n beroemde sjokoladekoek wat jy by die Hotel Sacher kan koop, teen R300 per koek!! Kan jy glo – daarmee kon ek maklik 6 kg se beste steak koop en buitendien is sjokolade giftig vir honde sê hulle.

Choklet Koek

            Alhoewel die fiakers baie populêr is onder toeriste, is die Wieners nie so beïndruk met hulle nie omdat die netjiese inwoners sê die perde mors die hele wêreld vol met hulle Rossäpfel.  Onlangs is besluit die perde moet “pooh-bags” dra, maar die koetsiers was in opstand want hulle sê die sakke skaaf die perde stukkend. Intussen moet die manne met die oranjepakke van MA48 maar gedurig optel en die strate afspuit.
.

Rufus/image200.jpg
Die eetgoed by Demel

Rufus/image204.jpg
Arme Skoonmaker

Rufus/image202.jpg
Perde met Pooh-bags

Gaan trug na die begin van Deel drie

Vervolg op die laaste deel

Click on the buttons below for other pages

Looking in to the small

Magical ideas for future dreams

the energetics of life

ethics in harmony

Dream again extreme

 .

.

 .

Aura de vida cosmica

The worlds of the micro y macro cosm

My view of space 25jrs ago

Smell the aroma of life

Dreams for a perfect world