our cosmos is life's creation

Memoirs van Rufus Deel drie.

Rufus Baron von Wufus
Rufus/image1-1.jpg

Die vervolg van
Die Memoirs van ‘n veelgerese,welbelese en veelgeprese WORSHOND.
Deur Rufus Baron von Wufus
Maart 2004 

Rufus Begin Vertel

Memoirs van Rufus deel twee

Lippizaner vertoning
Lippizaner vertoning

  Perde wat kan Wals - Die Spaanse Ryskool

            So van perde gepraat, seker meer bekend as die fiakers is die Spaanse Ryskool waar die Lippizaners hulle passies wys. Hierdie wit perde wat swart is as hulle gebore word en eers later wit word, is oorspronklik as oorlogsperde geteel. Baie van die passies wat hulle vandag op die maat van Mozart se musiek uitvoer, is oorspronklik bedoel om in die oorlog gebruik te word. ‘n Mens kan nie glo dat hulle al meer as 400 jaar in Wien is nie, dis langer as wat daar witmense in Suid-Afrika woon. Vandag woon hulle in die Stallburg wat oorspronklik as ‘n paleis vir ‘n  Keiser gebou is, nie sleg vir ‘n perdstal nie! So ‘n klompie jare gelede het daar onverwags ‘n geweldige brand in die Hofburg uitgebreek en die perde is net betyds gered want ‘n groot deel van die gebou het heeltemal afgebrand. Gelukkig is alles weer pragtig herstel.

             Die perde gee net in die winter vertonings want in die somer gaan hulle met vakansie op ‘n plaas in ‘n plek met die naam Piber.


Lippizaners met vakansie

Die Unieke Mense van Wien

Die mense van Wien is vir jou ‘n eienaardige klomp!  Nooit het ek soveel mense gesien wat op straat loop en met hulleself praat nie. Aan die begin het ek en Ouma, as ons gaan stap het, gedink die mense praat met ons en omdat ons Duits nog nie kon verstaan nie, het ons gewonder wat hulle vir ons sê. Later het ons agtergekom hulle praat met hulleself! En dis nou nie dat hulle nie al hulle varkies het nie, ek dink dis van eensaamheid want dis veral ou mense wat so loop en praat. Die arme mense woon nie soos hier by ons in huise met tuine nie, maar in ou klein woonstelletjies. Party daarvan is baie oud en het nie eers hulle eie badkamers en toilette nie, net ‘n gesamentlike een iewers in die gang. Daar is selfs plekke wat hulle ‘n Tröpflerbad noem, waar die mense kan gaan bad en stort, maar dis vandag net die ou mense wat dit nog gebruik.

 

Koffiehuise is baie populêr in Wien – dis deel van hul kultuur na al Kolschitski se moeite. In die winter as dit koud is, word dit baie koud in die ou woonstelle wat nie verhitting het nie. Omdat verhitting ook baie duur is, gaan baie van die ou mense bedags na ‘n Kafeehaus, bestel net een  koppie koffie en sit die res van die dag daar in die verwarmde lokaal, lees koerant en gesêls en die eienaar aanvaar dit maar so.

Kafeehaus
Kafeehaus

Maar as die son skyn, is dit ‘n ander ding! Die mense stroom uit na die parke en sit soos akkedisse daar in die son op die baie bankies in die park. Ai, as ek so lekker in die son hier by die huis lê, kry ek die arme mense daar in Wien so jammer wat so min son sien en nie hulle eie tuine het waar hulle kan sit nie.

 

‘n Ander opvallende dinge van die Wieners is hulle eerlikheid. Ek het al baie gehoor hoe Oupa die storie vertel van hoe hy sy beursie eenkeer teruggekry het. Voordat hy en Ouma daar gaan woon het, het Ouma eenkeer vir Oupa gaan kuier nadat hy ‘n vergadering daar gehad het en toe het hulle sommer ‘n bietjie in Oostenryk rondgetoer. Eendag wou Oupa vir Ouma gaan wys hoe mooi die Weense Woud is en hulle is sommer met die bus op na Kahlenberg toe om ‘n bietjie te gaan rondstap.

 Nadat hulle afgeklim het, het hulle op ‘n bankie naby ‘n koeldrankstalletjie gaan sit. Oupa het ‘n skouersak gedra met sy kamera en ander goed daarin en omdat hy nie sy beursie in sy agtersak wou dra nie, het hy sommer die beursie in die skouersak gesit en toegezip. Nadat hulle ‘n bietjie gerus het, het hulle in die pad geval deur die Woud na Leopoldsberg toe, dis nogal ‘n lang ent, ek het ook dikwels daar gaan stap. By Leopoldsberg aangekom na omtrent ‘n uur, was dit etenstyd en hulle wou iets by die restaurant bestel om te eet. Net voor hulle bestel – gelukkig – kyk Oupa in die skouersak om sy kamera uit te haal en wat moes hy ontdek – sy beursie met al sy geld en kredietkaarte is weg! Oupa het hom boeglam geskrik en hy was baie benoud want hulle moes nog die hotel in Wien betaal en die hele toer het nog voorgelê – met niks geld nie! Hy het al gesien hoe stop die Polizei hom in die tronk omdat hy nie die hotel betaal het nie!

 Hulle besluit toe om maar dadelik terug te stap soos hulle gekom het en om te kyk of die beursie nie miskien langs die pad uitgeval het nie, maar hulle het nie juis hoop gehad nie. Toe bid hulle maar en vra om die beursie terug te kry. Toe hulle by die koeldrankstalltjie terugkom waar hulle begin het, vra Oupa vir die vrou agter die toonbank of sy nie miskien weet van iemand wat ‘n bruin beursie opgetel het nie. Sy weet toe van niks, maar so ‘n ent weg onder ‘n boom, het ‘n ou Tannietjie met ‘n pers rok gestaan en Oupa-hulle so staan en bekyk. Sy kom toe na Oupa toe en vra of hy iets soek. Oupa sê toe baie benoud, ja hy soek sy beursie – so ‘n bruine – met al sy geld daarin. Die ou Tannie grawe toe in haar handsak en vra vir Oupa of dit sy beursie is? Oupa en Ouma het amper gehuil van dankbaarhied. Wat maak ‘n mens in ‘n vreemde land sonder ‘n sent in jou sak? Hulle het die ou Tannie bedank en Oupa wou haar toe ‘n beloning gee maar sy wou niks hê nie. Uiteindelik het hy haar omgepraat om tog vir haar ‘n blikkie koeldrank te koop en het ‘n groterige noot in haar hand gestoep. ‘n Mens kon sien sy was maar arm en sy kon netsowel die geld gevat het, sy het dit baie nodig gehad. Maar nee, sy het langer as twee uur gestaan en wag vir die mense om terug te kom wat hulle beursie verloor het. Sy het die beursie op die bank gekry waar Oupa-hulle aan die begin gesit en rus het. Oupa het haar naam in sy boekie geskryf en is haar ewig dankbaar:  Frau Gertrude Pock van Schickgasse 26/III/14 in Wien se 22ste distrik. Oupa het baie ander stories gehoor van ander mense se ondervindings met die Wieners se eerlikheid.

Rufus/image213.jpg

Ongelukkig het hierdie reputasie van eerlikheid van die Wieners onlangs ‘n lelike duik gekry – ek praat nou oor die ding van die Vienna Bikes! Die Stadsraad het besluit dat daar te veel motors in die stad is en dat meer mense moet fietsry. Ek dink dis ‘n goeie ding, veral as jy sien hoeveel spesiale fietspaadjies daar in Wien is, langs die strate en tot in die Woud. Iemand by die Stadsraad kry toe die slim idee van die Vienna Bikes. Hulle kry Nokia om hulle te borg en rig ooral in die stad staanplekke op waar die fietse met ‘n ketting en ‘n slot aan ‘n raamwerk vas is. As jy ‘n muntstuk in die slot sit, kom die fiets los en jy kan ry. By die punt waar jy wil kom, sluit jy die fiets weer aan ‘n ketting vas en kry jou muntstuk terug. Almal het gedink dis ‘n wonderlike idee – meer fietse, minder motors en die ry is verniet! Wat die Stadsraad vergeet het, was dat die mense in Wien verander het. Die jongmense dink nie meer eerlikheid is so belangrik nie en dan is daar vandag duisende mense in Wien uit Afrika, die ou Oosbloklande (soos Pole, Hongarye, Roemenië, ens) wat ander waardes het as die Wieners. Die gevolg was dat die meeste fietse amper oornag verdwyn het. Party is in die Donau gekry (van die jongmense het gedink dis baie snaaks om die fiets in die rivier te gooi as hulle klaar gery het), ander is in “Afrika diplomate” se woonstelle gekry, party het in Italië opgeduik en hulle het selfs ‘n leë meubelvragmotor vol Vienna Bikes gekry op pad Rusland toe! Die Stadsraad het toe besluit, miskien was die idee ‘n nuwe ding waaraan die mense eers gewoond moet raak en na ‘n ruk weer nuwe fietse gekoop en beskikbaar gemaak. Die Stadsraad was weer verkeerd want dieselfde ding het weer gebeur. Voordat ons uit Wien weg is, was daar nog net so hier en daar ‘n fiets oor en ek het gedink dis heeltemal afgeskaf.

Rufus/image214.jpg
Nuwe Vienna Bikes en die Rekenaarterminaal

Maar dit lyk vir my asof die burgermeester en sy raadslede maar net nie fietse uit hulle koppe kan kry nie. Na die eerste mislukking met die Vienna Bikes, gaan hulle blykbaar nou weer fietse terugbring wat jy kan huur met ‘n kredietkaart en ‘n rekenaarterminaal.


Faxis

Behalwe die Vienna Bikes is daar ook nou ‘n nuwigheid - Faxis, dis nou fiets taxi’s, word in Wien inbring. Elke Faxi het ‘n drywer, of sou ‘n mens hom nou ‘n trapper noem, en kan twee passasiers vervoer. Die trappers sê hulle gaan op dié manier gimnasiumgeld spaar. Miskien omdat hulle drywers het en omdat hulle te groot is  om in Afrika diplomate se kamers te verdwyn, sal hulle nie dieselfde lot as die Vienna Bikes hê nie en die kans om in die Donaukanaal gegooi te word is ook ‘n bietjie kleiner. Of die mense dit gaan gebruik, is ook ‘n vraag want dit kos omtrent – kan jy dit glo - twintig rand per kilometer om saam te ry. Tyd sal maar moet leer.

‘n Ander ding wat my baie verwonder het, want dis ‘n ding wat honde doen en nie mense nie, is die Wieners wat so in vullisblikke grawe!  Kan jy dit glo! Nou moet ek darem sê, in Wien is daar vullisblikke en vullisblikke – een vir witglas, een vir gekleurde glas, een vir plastiek, een vir papier, een vir leë blikke, een vir tuinafval en een vir gewone kombuisafval. ‘n Mens moet jou afval baie mooi uitsorteer voor jy dit weggooi. Gewoonlik grawe die Wieners in die vullisblikke met die Altpapier, ‘n mens kan aanneem vir leesstof – hoop ek! Ek dink na die Wêreldoorlog toe die mense so swaar gekry het en letterlik uit vullisblikke moes lewe, het baie van die gewoontes bly vassteek. So ook die gewoonte om sigaretstompies op te tel. Ek het met my eie oë gesien hoe ‘n deftige dame met ‘n duur pelsjas by ‘n bushalte stompies opgetel en gerook het. Gelukkig doen ons honde nie so-iets nie, ek bedoel stompies optel – ons grawe darem so nou en dan in vullisblikke!

Rufus/image218.jpg

Die Wieners, veral die ouerige mense, is ook baie netjies. Jy sien dikwels ‘n ou Tannie wat kopskuddend papiere en ander gemors optel wat die jong mense en buitelanders laat val. Ek het eenkeer met my eie oë gesien hoe ‘n ou Tannie in die trem klim en al die oranje handvatsels waaraan die staande passasiers vashou, netjies eweredig uitmekaar spasiëer omdat almal op ‘n klomp was. Die ouerige mense is ook baie kwaai – as iemand, gewoonlik jongmense – ongeskik is om voor iemand in ‘n tou in te druk of om hardop te lawaai, dan word daar dadelik hard met hulle gepraat!

 

Toe ons in Wien aangekom het, het ons dikwels mense sien stap met breë geel armbande met ronde swart kolle daarop. Later is die armbande ‘n bietjie meer modern gemaak soos die een hier langsaan. Ons het nie geweet wat dit is nie en Oupa het altyd gesê dis dalk mense met ‘n aansteeklike siekte soos pokke van wie jy liewer moet wegbly. Later het ons uitgevind dat dit veral arm ouer mense en ook gestremdes was wat dié armbande gedra het. Hulle kry naamlik spesiale ondersteuning van die Staat en kan gratis bus, trem of moltrein ry. Daar is ook gemerkte sitplekke vir hulle en hulle het voorkeur om daar te sit. Dis nou vir my baie mooi dat die arme mense so gehlp word – veral omdat ek ook nou ‘n ou mens (ekskuus, hond) is.

Rufus/image219.jpg
Musikvereinbal

Jy weet mos noual dat Wien die Musiekstad genoem word omdat so baie komponiste daar gewoon en gewerk het. Maar Wien kan ook die stad van walse genoem word want die Wieners is baie lief vir ‘n bal – dis nou nie ‘n ding wat ‘n mens vir ‘n hond gooi nie, dis ‘n dansparty waar die mense op maat van Strauss se walse dwarsdeur die nag dans. So vanaf Januarie begin die balle, die een na die ander. Daar is ‘n Opernball wat oor die hele wêreld op TV uitgesaai word en ‘n Blumenball waar meer as 60 000 blomme vir versiering gebruik word. Dan is daar balle vir Dokters, Jagters, Bakkers, Gewigoptellers, Offisiere, Straatveërs, Koffiemakers, Aptekers, noem maar op – meer as 100 verskillende balle word aan die begin van die jaar gereël.

Rufus/image222.jpg
Operabal

Die mans trek aandpakke aan met lang manelle en die dames dra lang wit aandrokke, ‘n baie deftige affêre soos jy kan sien in hierdie prentjies van die Philharmonikerball in die goue saal van die Musikverein of van die beroemde Operabal.

Beslis een van die eienaardigste Wieners waarvan ek gehoor het, is die eksentrieke argitek en kunstenaar Friedensreich Hundertwasser. Soos die mense sê, ek glo nie sy hysbak het heeltemal tot bo gegaan nie. Eintlik is hy as Fritz Stowasser gebore maar toe hy eers beroemd geword het as skilder en  argitek, het hy sy naam laat verander. Hy is oorlede net nadat ons in Wien aangekom het.

Rufus/image224.jpg
Friendensreich Hundertwasser

Van sy bekendste werk is die Hundertwasser toring  langs die spoor van die Heiligenstadt moltrein. Eintlik is die toring ‘n skoorsteen vir die gebou langsaan waar huisafval verbrand word om water warm te maak vir die huise in die omgewing wat nie warmwatergeisers het nie. Slim plan nè! Dan is daar ook die Hundertwasser Haus, ‘n eienaardige, bont woonstelgebou met bome op die dak en waarvan die vloere nêrens gelyk is nie soos ‘n mens kan sien aan die vensters

Rufus/image225.jpg

Rufus/image228.jpg
Hundertwasserhaus en -Toring

Toe ons in Wien gekom het en ek nog min van Duits geweet het, het die Wieners se vanne vir my baie deftig en belangrik geklink. Later toe ek meer van die taal verstaan het, het dit eintlik ‘n grap geword om die vanne in Afrikaans te vertaal. Luister net na ‘n paar: (Opferkuh) Offerkoei, (Holzwurm) Houtwurm, (Weinwurm) Wynwurm, (Schnekenreiter) Slakryer, (Fuchschwanz) Jakkalsstert, (Dickhaut) Dikvel, (Hasenfratz) Haasgevreet, (Katzenbeisser) Katbyter, (Wanzböck) Luisbok, (Schwarzhuhn) Swarthoender, en so kan ‘n mens die hele dag aanhou! Dink net hoe moeilik jy dit op skool sou gehad het as jou van Varkhammer (Schweinhammer) was! Dan is daar nog die klinkerlose vanne wat geen mens of ‘n hond kan vertaal of uitspreek nie – Krb, Srp, Trs en Prp – of ‘n van wat soos ‘n nies klink, Trzesniewski. Gee my maar liewer ‘n Afrikaanse van soos Poggenpoel (nouja, dit kom eintlik maar ook van die Duitse Poggenpohl).

 

Paleis van Versailles
Paleis van Versailles

Die Oumense se reise 

            Wanneer hulle ‘n kans gekry het, het die Oumense gaan rondstap in die Stad, of in die gebiede om Wien. Maar partykeer het hulle die pad gevat en ver gery dan moes ons honde maar by die twee Wollies gaan bly – later was dit net ek alleen toe Ma Katryn en ou Jakkie weg is hondehemel toe.

  Parys, Lilla se ou Tuiste

            Die eerste reis wat die Oumense aangepak het, was na Parys in Frankryk waar Oupa ‘n vergadering van ‘n week lank gehad het. Ouma het soos gewoonlik maar die stad op haar eie verken. Gelukkig is daar busse wat hulle Hop-on-Hop-off busse noem. Jy koop ‘n kaartjie en klim enige plek op die bus se sirkelroete af, bekyk  wat jy wil sien, en klim dan weer op en ry verder. Een ding wat Ouma nie wou doen nie was om alleen op Parys se moltreine, wat hulle die Metro noem, te ry. Hiervoor moes Oupa saamgaan. Ek wens so ek kon saamgaan om die mooi stad te sien waar Lilla vier jaar lank gewoon het – net my kennis van Frans is maar eina!

 


Bote op die Rivier Seine

            Vir my is die mooiste storie dié wat die Oumense kom vertel het van die Fransman wat musiek gemaak het langs die Opera met  ‘n netjiese bedjie  waarin sy Worshond en sy kat onder ‘n kombersie gelê het. Jy kan dink hoeveel geld die mense vir hom in sy mandjie gegooi het!

Rufus/image236.jpg
Worshond en kat in hulle bedjie


Hier kan n mens duidelik sien die watervlak is hoër as die pad links

 Holland – die Land laer as  Seevlak

            Die Oumense wou ook baie graag na die mooi blomme by Keukenhof in Holland gaan kyk in die lente en omdat dit twee dae se ry van Wien is, het hulle op ‘n bustoer saam met ‘n klomp Oostenrykers gegaan. Hulle moes maar alles in Duits aanhoor en doen en het partykeer nie alles mooi verstaan nie – die Wieners praat mos ‘n ander soort Duits!

            Oupa was baie beïndruk met Holland. Die Hollanders bou sommer ‘n groot wal in die see (wat hulle ‘n dyk noem)  en pomp die water oor die wal totdat die grond aan die een kant droog is, dan plant hulle plante om die grond te ontsout en sommer gou-gou boer hulle op die drooggelegde grond. Die enigste probleem is dat die boer se lande dan heelwat onder die vlak van die see lê. Die grootste deel van Holland lê laer as die see se vlak, selfs hulle groot lughawe, Schipol, lê sowat 8 meter (amper twee verdiepings) onder die seevlak. Jy kan jou indink wat sal gebeur as die dyke sou breek!

Rufus/image239.jpg
Versierde fiets in Amsterdam

            Oupa sê vir hom was die snaakste dat ‘n mens onder iets deurry wat soos ‘n brug lyk en dan is dit eintlik ‘n kanaal met ‘n boot daarin wat bo-oor jou ry!

 

            Omdat Holland eintlik op die bodem van ‘n vlak see lê, is alles plat – geen bulte of berge nie, ‘n ideale plek vir fietsryers  – miljoene van hulle. Dis sommer ook maar net fietse – nie die moderne fietse waarop die mense in Pretoria ry nie. Party mense is trots op hulle fietse en versier dit, ander fietse is maar net ‘n ding om oor die weg mee te kom.


Ou Omie op pad langs die tulpe

            Maar die eintlike dinge wat ek vir jou wou vertel is hoe die Oumense wat spesiaal Holland toe is om die blomme by Keukenhof te gaan bekyk, amper nie daar uitgekom het nie! By die hotel verstaan hulle die toerleier se instruksies verkeerd hoe laat hulle die volgende oggend die toerbus moet kry wat die dag Keukenhof toe sou gaan. Hulle staan toe rustig op, gaan ontbyt maar toe hulle na die toerbus soek, is dié al weg.

 

             Wat nou gemaak want die hotel is ver van Keukenhof? Oupa vra toe of daar toere na Keukenhof toe is. Hulle het al die pad gery om daar uit te kom en nou was die bus weg – hulle was so teleurgesteld! Die hotelmense sê, nee daar is nie toere nie, maar hoekom ry hulle nie met die trein na Haarlem toe nie, daar kan hulle ‘n munisipale bus kry na Keukenhof toe.


Keukenhof se blomme

            Die Oumense het ‘n bietjie gesoek na die stasie maar toe hulle daar kom het die trein reg gestaan om te ry. Hulle het vinnig kaartjies gekoop en ingspring en verwag om lank te ry maar na  sowat 15 minute was hulle in Haarlem – Holland is maar klein! Daar sien hulle ‘n stalletjie waar jy ‘n gekombineerde buskaartjie en toegangskaartjie vir Keukenhof kan koop en nie lank daarna nie, is hulle weg met die bus met ‘n vriendelike Hollandse busbestuurder wat alles vir hulle mooi verduidelik hoe om by Keukenhof te kom.

Česká Republika – Die Land met die Snaakse Letters in Hulle Alfabet                Die Oumense was skaars terug in Wien toe moes Oupa na ‘n vergadering van ‘n week lank toe gaan wat in Praag die hoofstad van Tsjeggië gehou is. Hy en Ouma besluit toe sommer om met die Passat te ry want dit is ‘n bietjie verder as Durban van Pretoria en dan kon hulle sommer ‘n bietjie op hulle eie in die land rondry. Dit het hulle ook gedoen en op plekke met die snaakste name uitgekom – luister net ‘n bietjie: Kutná Hora, Plzeň, České Budĕjovice, Jindřichův Hradec en nog sulke onuitspreekbare name. Geen hond kan die taal verstaan nie! Eendag het die oumense teruggekom na Praag van ‘n lang dag se rondry. Dit het katte en honde gereën en hulle het in die groot stad moedeloos verdwaal. Oupa het by twee vulstasies aangegaan en die mense daar gevra om hom net op sy kaart te wys waar hy was, dan sal hy die pad terugkry na die hotel toe. Alhoewel die mense vriendelik was, kon hulle nie ‘n woord Engels of Duits verstaan nie en net hulle skouers opgetrek. Die Oumense het uiteindelik op genade weer by die hotel uitgekom. 

            By die hotel aangekom was hulle honger en Oupa het ‘n stroopwafeltjie geëet wat hulle nog van Holland saamgebring het. Dit moe hy nie gedoen het nie, een van sy grootste stopsels het aan die taai wafeltjie vasgesit en daar sit hy toe met die groot gat in sy tand wat soos Kimberly se Groot gat voel. Hy het nie ‘n tandarts geken nie en al het hy, hy kon nie Tjeggies praat nie! Hy het toe maar in spanning gewag op wat gaan gebeur maar gelukkig het die tand nie seer geword nie en kon hy dit later in Wien laat regmaak.

 

Rufus/image246.jpg
Karlsbrug oor die Vitavarivier

            Terwyl Oupa in een van die Paleise (Černinský Palác) sy vergadering gehad het, het Ouma op haar eie rondgeloop om Praag te bekyk – dis ‘n pragtige en baie ou stad wat ook in sy geskiedenis aan die Habsburgs behoort het. Oupa het eenkeer uit Amerika vir haar ‘n metertjie saamgebring wat sê hoe ver ‘n mens geloop het. Sy het in die week wat hulle daar was, 70 kilometer in Praag met die voet gestap en altyd weer by die hotel uitgekom – sy kan kophou, ek glo nie ek sou dit kon regkry nie. Al het sy so baie rondgekyk, was daar so baie mooi dinge waarby sy nie kon uitkom nie – dit is net te baie om te sien. Oupa het met sy vergadering maar min van die stad gesien maar hulle het darem mooi handgeslypte wynglase daar gekoop – Tsjeggië is bekend vir sy glas.


Tyn Kerk

            Die ou Karlsbrug oor die Vitavarivier, ook bekend as die Moldau in Duits, is vernoem na ‘n Habsburg koning en is al oor die 800 jaar oud. Dit het oor al die eeue al wat ‘n vloed en oorstroming is, oorleef. Vandag is dit net oop vir voetgangers om die brug te beskerm.

             Maar die mooiste storie vir my is toe die Oumense die dorpie Čheský Krumlov besoek het. Ek het op foto’s en TV in Wien gesien wat ‘n pragtige dorpie dit is – ‘n ou middeleeuse dorpie wat al om die Moldaurivier gebou is wat soos ‘n perdeskoen deur die dorpie vloei. Dis een van die paar “World Heritage” plekke in die wêreld, dit is nou plekke wat deur UNESCO verklaar is om vir altyd bewaar te bly omdat dit so uniek  is. 

            Natuurlik wou die Oumense sien hoe hierdie mooi dorpie lyk. Hulle het die hele dag van Praag af gery om daar uit te kom en laat die middag moeg daar aangekom. Toe moes hulle plek soek om te oornag maar oral waar hulle aangegaan het, was dit vol bespreek. Hulle was naderhand moeg gesoek toe Ouma ‘n advertensiebord sien wat slaapplek adverteer. Wat interessant was, was dat daar op die bord so ‘n paar  vissies geskilder was. Daar was nie parkeerplek nie en Oupa het in die kar gesit en wag terwyl Ouma gaan navraag doen het. Na ‘n ruk kom Ouma daar aan en wys dat Oupa moet inry in die erf in. By Ouma was so ‘n kort dikkerige tannietjie met ‘n geel regaf krimpelien rok. Sy het van oor tot oor geglimlag en toe Oupa afklim hom sommer om die nek geval. Hy was so verbaas dat hy nie geweet het wat om te doen nie. Die tannie nooi hulle toe in en gee vir elkeen ‘n groot glas koeldrank en sê in gebroke Duits (sy kon nie juis Engels praat nie) dat haar plek ongelukkig vol is maar sy gaan ‘n vriendin bel wat dalk plek sal hê. Toe sy gaan bel vra Oupa vir Ouma wat dan aangaan dat sy so vriendelik met hulle was. Ouma vertel toe sy het die tannie vir plek gevra het, het sy sommer ook gevra hoekom daar vissies op haar advertensiebord was.

Rufus/image250.jpg
heský Krumlov langs die Moldaurivier

Sy het net een gil gegee en Ouma om die nek gegryp en opgewonde gesê “Dan is jy mos ‘n Christen as jy weet wat die vissies beteken!” Sy vertel toe hulle is ‘n klompie charismatiese Christene in die dorpie wat gereeld bymekaarkom en nooi die Oumense sommer uit na hulle kerk die aand, maar hulle het nie kans gesien nie want hulle was moeg en buitendien verstaan hulle nie Tsjeggies nie. Na ‘n ruk kom die tannie se Christen vriendin toe daar aan met haar motor, sy het toe nog plek oop en het  spesiaal gekom om die Oumense die pad na haar plek te wys. Daar het sy vir hulle die beste plek in haar gastehuis gegee met ‘n slaapkamer, ‘n kombuis en ‘n aparte sitkamer. Die Tsjegge was so opgewonde om Christene uit ‘n ander land te ontmoet want by hulle is dit maar skaars. Gelukkig was daar genoeg tyd oor dat die Oumense darem nog in die pragtige dorpie kon gaan loop – hulle sê dit was onvergeetlik. 

‘n Spesiale Geleentheid           Nie lank na die Oumense  terug was van Tsjeggië nie, lê ek een aand by Oupa op Mbeki se bank na die TV en kyk. Die program was nie baie interessant nie (iemand het ‘n  onderhoud met Oostenryk se President, dr Klestil gevoer) en ek het lomerig begin voel. Skielik klop iemand aan die deur en Ouma gaan maak oop. Sy kom terug met ‘n verbaasde gesig en sê vir Oupa, hy moet liewer maar gaan kyk wat aangaan. Daar staan toe ‘n man met sulke outydse klere; ‘n manel van rooi fluweel met goue knope, kant valletjies in die plek van ‘n das en wat by sy moue uithang, ‘n swart kniebroek met lang wit kouse, blink swart skoene met groot silwer gespes en’n wit pruik op sy kop met ‘n swart driekantige hoed met ‘n deftige veer daarop. In sy hand het hy ‘n opgerolde perkamentrol wat hy dramaties ooprol en vra: “Sind Sie der Besitzer einer Dackel namens Rufus?” As jy nie Duits verstaan nie, hy het gevra of Oupa die eienaar van ‘n Worshond met die naam Rufus was. Oupa het maar net verbaasd ja geknik en toe sê die man op Duits dat Hofrat (dit was Oupa se titel by die ambassade) von Wielligh en sy gade uitgenooi word om die Heer Rufus te vergesel na ‘n baie spesiale funksie wat die President van Oostenryk, Dr Klestil, gaan reël. Meer wou hy nie sê nie behalwe om te benadruk dat dit ‘n belangrike geleentheid was en dat ons drie moet sorg dat ons teenwoordig sal wees, toepaslik aangetrek (dis nou die Oumense, nie ek nie). Hulle sou ons kom haal.

 

Rufus/image252.jpg
Ouma en die Japannesies

            Oupa het toe navraag gedoen deur sy kontakte by die ambassade om uit te vind waaroor die funksie nou eintlik sou gaan. Kan jy glo, dit was toe ‘n funksie om my, Rufus, te vereer! Hoekom, het ek nie mooi geweet nie.

 

            Oupa het toe vir hom ‘n aandpak met ‘n swaelstert manel gaan koop met ‘n wit strikdas en vir Ouma ‘n swart fluweel aandrok wat tot op die grond hang en ook ‘n nuwe handsak. Ek het ‘n splinternuwe rooi egte leer halsband met my naam op ‘n goue plaatjie gegraveer, gekry.

 

Hoe nader ons aan die aand gekom het, hoe benouder het Oupa geword omdat hy ‘n toespraak in Duits sou moes maak en sy Duits nou nie só goed was nie. Hy lees toe toevallig in die koerant van ‘n nuwe uitvinding van ‘n Japannees. Dis ‘n toestelletjie met ‘n klein TV skermpie. Jy sit dit om ‘n hond se nek en as die hond blaf, dan vertaal die

toestel die blaf en ‘n mens lees dit op die skermpie. Hy spring toe dadelik op die Internet en bestel so ‘n toestelletjie. Maar al wat opdaag is die ding. Oupa het naderhand al hoe benouder begin raak maar gelukkig lewer die posman die vertaalmasjientjie die oggend voor die funksie af. Oupa het dit dadelik uitgetoets, ek moes blaf en dan lees hy op die skerm. Maar daar was ‘n groot probleem, die vertaling op die skerm was in Japannees, wat geen mens kan lees nie, hulle gebruik mos nie ons alfabet nie maar sulke snaakse tekentjies. Hoe nou gemaak?

            Toe kry Oupa ‘n slim plan en gaan vra die Japanners wat bo ons gewoon het in Armbrutergasse of die seuntjie nie kan saamgaan en die Japannees lees en dit in Duits vertaal nie (wat hy toe al op skool geleer het). Sy Pa sê toe ja en hulle het dadelik ook vir hom splinternuwe, deftige klere gaan koop. Gelukkig was alles toe betyds gereed die aand toe hulle ons kom haal, almal opgedres in hulle nuwe deftige klere en ek gebad, tande geborsel en met my nuwe halsband.   

            Die aand daag die man met die outydse klere toe op soos afgespreek maar met twee ander by hom. Hulle het iets gedra wat soos ‘n draagbaar lyk met ‘n groot deftige en sagte kussing van rooi fluweel daarop. Oupa, Ouma en die Japannesie het baie deftig in hulle nuwe klere gelyk en die Japannesie se pikswart hare was netjies gesny en gekam. Toe ek saam met hulle wou uitloop, wys die man met die outydse klere vir my ek moet wag. Hy tel my toe op in sit my op die rooi fluweelkussing op die draagbaar en die twee manne dra my uit. Ek  kon sien Oupa en Ouma was baie verbaas oor alles maar hulle het niks gesê nie. Buite gekom, staan daar toe ‘n pikswart koets, blink opgevryf, met pragtige geelkoper koetslampe en ‘n span spierwit Lippizaners. Die Lippizaners het ongelukkig ‘n bietjie van hulle Rossäpfel op die straat gemors en soos Ouma nou maar is, was sy bekommerd oor wat die bure gaan sê. Maar Oupa het gesê, nee daar is nie nou tyd nie ek sal dit sommer later met die sneeugraaf optel – dis goed vir die tuin. En daar gaan ons, die ene senuwees!

Rufus/image253.jpg
Ontvangsaal

            Hulle bring ons toe na die Hofburg waar die President se kantoor is. Toe ons uitklim op die rooi tapyt, staan daar ‘n erewag van soldate aan weerskante. Ek gaan vooruit, gedra op my rooi kussing en Oupa en Ouma en die Japannesie kom agterna. Soos ons loop, klap die mense hande en juig ons toe. Die ingang van die paleis is feestelik versier en hulle dra my in in die mooiste saal wat my oë nog gesien het

Rufus/image255.jpg
Swierige Ingang

 In plaas van muurpapier is die mure met symateriaal bedek, die pragtigste kristalkandelare hang van die dak en die deure is met sulke goue krulle versier. Oral is daar groot skilderye van die belangrike mense wat in die paleis gewoon het en oor Oostenryk geheers het en die pragtige hout vloere is bedek met die mooiste Persiese tapyte wat ek nog gesien het. ‘n Strykorkes het in die hoek gesit en pragtige musiek van Haydn, Mozart en Beethoven gespeel. Dit het my senuwees ‘n bietjie gekalmeer want ek was maar baie benoud – ek het nie geweet wat om te verwag nie.

            Die saal was gevul met mense wat baie belangrik gelyk het, almal in pragtige aanddrag geklee, maar Oupa en Ouma het gladnie by hulle afgesteek nie. Maar die mense het net vir my oë gehad waar ek op die rooi fluweelkussing op ‘n spesiale verhoog gesit het. Ons moes ‘n rukkie wag vir die President. Hy en sy vrou kom toe ingestap. Hy het  so ‘n rooi en wit band (Oostenryk se kleure) skuins oor sy bors onder sy manel en ‘n pragtige goue ster, ‘n mens noem dit ‘n orde, op sy sak vasgesteek. Saam met hulle  was so ‘n ouerige Omie wat baie belangrik gelyk het.

            Die orkes hou op speel en die President begin met sy toespraak: “Eure Exzellenzen, meine sehr geehrte Damen und Herren” – o ja ek vergeet jy kan nie Duits praat nie. “U eksellensies, geëerde dames en here, ons is vanaand hier bymekaar om in die eerste plek ‘n groot fout te erken en om in die tweede plek daardie fout op ‘n besondere manier te herstel. Die fout is dat ons hier in Oostenryk al vir drie jaar ‘n besondere Herr Dackel het wat hier woon – die Einstein onder honde – en dit nou eers agtergekom het. U eksellensies, ek stel aan u voor, die Herr Rufus uit die verre Suid-Afrika wat ons vanaand met sy teenwoordigheid vereer. Hy word vergesel deur Hofrat Doktor Nic von Wielligh en sy elegante gade.” Die mense klap hande en ek kry so skaam, ek wou sommer bloos maar ek weet nie hoe bloos honde nie. Die President gaan toe verder: “Hierdie fout wil ons vanaand op ‘n besondere manier herstel. In die eerste plek wil ons die beste hondewors in Oostenryk vernoem na Herr Rufus.”

Rufus/image258.jpg
President en Frau Dr Klestil

“Verder, soos u weet het Oostenryk vir 850 jaar Keisers gehad uit die huis van Habsburg. Vandag lewe die seun van die laaste Keiser, Keiser Karel, nog (en hy wys na die ou Omie saam met hom) – Dr Otto von Habsburg. Soos julle weet, het die Keiser in die outyd mense wat besonder presteer het, tot die adelstand verhef. In die tweede plek wil ons dan vanaand met Dr von Habsburg se toestemming Herr Rufus op ‘n besondere en ‘n unieke manier vereer.” Dr von Habsburg kom toe na vore met ‘n goue swaard en tik my eenkeer op elke skouer en sê: “Herr Rufus, dit is vanaand ‘n besondere eer, om u die Einstein onder  honde, tot die adelstand te verhef. Van nou af sal u Rufus Ritter Freiherr von Wufus heet en die mense sal u aanspreek as Baron Rufus von Wufus.” Maar toe juig die mense vir jou en ek voel sommer baie klein, julle ken my mos, ek is nie ‘n windmakerige hond nie (net as ek bene geëet het).

 

            Toe was dit my beurt om ‘n toespraak te maak. Ek het so met my poot gewaai om die toejuiging te laat bedaar en vir die Japannesie gewys, staan nader. Soos ek blaf, lees hy wat ek sê op die skermpie en vertaal dit in goeie Duits. Van al die opgewondenheid het ek ‘n bietjie vergeet wat ek gesê het, maar dit was iets soos: “Baie dankie geëerde President, dr von Habsburg en die mense van Oostenryk vir die eer wat julle aan my, ‘n nederige besoeker uit die verre Suid-Afrika, vanaand bewys het. Wees verseker dat ek dit opreg waardeer, ook namens my mensfamilie hier, in Suid-Afrika en in Australië. Dit is ook ‘n besondere eer wat u aan ons Worshondfamilie betoon het, en ek wens my Ma Katryn kon vanaand hier by my wees om alles te aanskou.” Ek het ‘n rukkie so bewoë geraak, dat ek nie verder kon praat nie. Ek sluit toe maar net af met: “Baie dankie.” Maar toe juig die mense vir jou! Miskien was dit ook ‘n bietjie vir die Japannesie wat so goed vertaal het.

Rufus Ritter Freiherr von Wufus
Rufus Ritter Freiherr von Wufus

             Die President staan toe nader en hang so ‘n pragtige goue ster aan ‘n rooi en wit lint om my nek en skud my poot en sê: “Baron, veels geluk, die tafels is gedek, nou gaan ons regtig feesvier.” Toe ek sien watter fantastiese kos alles op die tafels met die goue kandelare, goue messe en vurke en kristalglase is, het my mond sommer begin water. Van al die spanning en senuwees van die dag, kon ek nie juis eet nie en meteens het ‘n groot honger my oorval. Toe ek die sappige stuk vleis sien wat die kelner in my bord sit, kon ek dit nie meer hou nie en daarna gehap. In my haas het ek my misgis, die kritalglas omgestamp en die bord van die tafel laat afval. Dit het in duisend skerwe gebreek. Die mense wat vrolik gesit en gesels het, het skielik doodstil geword – jy kon ‘n speld hoor val – en almal het vir my gekyk. Veral die President het baie geskok gelyk. Ek het yskoud geword en wou onder die tafel inspring, weg van die al die oë af, ek het in my lewe nie so skaam gevoel nie.

Rufus/image261.jpg
President Klestil en sy vrou Margot maak passies by die Operabal

            Toe skrik ek wakker – daar waar ek op Oupa se been voor die TV-stel aan die slaap geraak het - en die President is nog al die tyd op die TV. Gelukkig het ek alles gedroom en het ek nog my Rufus hondewors gehad wat oom Helgard vir my gegee het! Ek was in my lewe nog nie so verlig nie maar ook darem ‘n bietjie jammer dat ek nie regtig Baron Rufus von Wufus geword het nie. Dink net hoe trots sou Sus Griet en Neef Erdmann op hulle Boereworshond familielid gewees het. Maar nouja, in Suid-Afrika weet die mense, en nog minder die honde, nie juis wat ‘n Baron is nie en ek sou oneindige vrae moes beantwoord. En buitendien is die President ook eintlik maar ‘n snaakse ou Omie soos jy kan sien waar hy en sy vrou by die Operabal dans!

 

 

Ons gaan terug 
Gaan ons of gaan ons nie?

            So omtrent nege maand voor ons moes teruggaan na Suid-Afrika, het die mense in Pretoria Oupa gebel om te hoor of hy bereid sou wees om langer te bly. Ek het gehoor hy en Ouma bespreek dit maar sy was nie baie gelukkig nie want sy het te veel na die kinders en kleinkinders verlang. Uiteindelik het Oupa hulle laat weet dat hy op die langste omtrent 10 maande langer sou bly, maar nie langer nie. Ek het nie eintlik geweet hoe om daaroor te voel nie. Aan die een kant het ek na die lekker son in Pretoria verlang – ek onthou goed hoe ek en Boetie Plesier so lekker in die son gelê en bak het – en dan was daar natuurlik Sus Griet en die klein Erdmann (vir wie ek nou nie juis ‘n besondere liefde het nie.) Aan die anderkant het ek lekker in Wien gewoon en die kans gehad om altyd weer nuwe dinge te sien. Ouma het eendag in die stad ‘n vrou gesien met iets wat soos hondebedjie op wiele gelyk het en wat die vrou agter haar aangesleep het soos ‘n golfkarretjie met haar hondjie knus in die bedjie. Sy het dadelik die vrou gestorm en gevra waar sy die hondekarretjie gekoop het en die volgende dag is hulle na ‘n winkelsentrum om so ‘n karretjie te gaan koop. Ongelukkig het hulle met leë hande teruggekom – dink net hoe lekker ek met my seer been daarin sou kon ry en al die nuwe dinge wat ek sou kon sien. Maar nouja  .....

            Uiteindelik het daar toe nie veel van die langerbly gekom nie omdat die mense in Pretoria nie in staat was om besluite te neem nie en het ons toe net een maand langer gebly as die drie jaar van Oupa se kontrak.

 

Rufus/image262.jpg
Oorstromings

Vloede en oorstromings

            Net voor ons teruggekom het, was daar verskriklike vloede in Oostenryk en in Tsjeggië – die arme Chesky Krumlov was toe onder die water. Ouma-hulle het baie gewonder wat van hulle Christen vriende daar geword het want hulle was maar naby aan die rivier. In Wien self moes hulle die Nuwe Donau, of die Entlastungsgerinne soos hulle dit noem, se sluise oopmaak om al die water te hanteer. Gelukkig het hulle so iets gehad, anders was die hele stad onder water. Plekke direk langs die Donau het wel diep onder die vloedwater beland, die rivier het 10 meter diep geloop, dit is omtrent drie verdiepings.

Rufus/image263.jpg
Friedhof der Namenlosen langs die Donau

             Wat vir my baie aardig is, was die Friedhof der Namenlosen wat twee meter diep onder die water was. Daar is ‘n sekere draai in die Donau waar die water kolk en allerhande goed altyd uitspoel. Op dié plek het hulle ‘n begraafplaas langs die Donau gemaak waar arme onbekende mense begrawe is wat sedert 1540 (dis amper 500 jaar terug!) ook daar uitgespoel het nadat hulle iewers stroomop verdrink het. Om te dink niemand het geweet wie hulle is nie – dis hoekom dit die begraafplaas van die naamloses genoem word  - en dat niemand ooit na hulle gesoek het nie en nou was hulle al weer onder die water!

Herr Bogner

            Toe dit tyd geword het om terug te kom, het Oupa begin navraag doen of ek weer saam met hulle in die vliegtuig se kajuit kon saamry soos toe ek gekom het. Niemand het geweet nie, party mense het gesê ja en ander weer nee. Uiteindelik het hy toe uitgevind dat die mense in Suid-Afrika nou vereis dat honde saam met die bagasie in ‘n goedgekeurde hok moet vlieg en nie meer in die kajuite toegelaat word nie. My hart het in my voete (honde het nie skoene nie) gesink. Hoe sou ek dit oorleef? Sê nou ek beland op ‘n verkeerde vliegtuig en sien die Oumense nooit weer nie. Ek het al so baie gehoor hoe Oupa vertel van mense se tasse wat verlore op vlugte gegaan het en wat die eienaars nooit weer gesien het nie. Wie sou vir my water gee as ek dors is en sorg dat ek my hartpilletjie op die regte tyd kry? Ek was baie benoud, veral toe ek hoor hoe die Oumense saggies vir mekaar gesê het hulle is baie bekommerd dat my slegte hart ek nie al die spanning sou kon vat nie. ‘n Ander ding wat my gepla het, was dat daar nie meer direkte vlugte tussen Wien en Johannesburg was nie. Dit het beteken dat ek iewers op ‘n ander vliegtuig oorgelaai sou moes word met die kans dat ek op ‘n verkeerde vliegtuig sou beland soveel groter. Maar die ergste was dat ek voor die Oumense sou moes vertrek om betyds saam met hulle op Jan Smuts Lughawe aan te kom. Dit sou beteken dat ek meer as 24 uur in my ou klein groen hokkie sou moes sit – sê nou ek wou ‘n draai loop? Die hele ding het erg op my senuwees gewerk. Dan was daar nog al die permitte en papiere wat die mense in Suid-Afrika vereis het en wat ek in Wien moes kry.

Rufus/image264.jpg

            Iemand het vir Oupa gesê hy moet nie eers waag om alles self te probeer organiseer nie, hy moes liewer ‘n troeteldier reisagent gebruik. So het hy by Herr Bogner uitgekom na ‘n groot soektog. Herr Bogner het oor die telefoon vir hom gesê hy het baie ondervining en dit het nog nooit met hom gebeur dat een van sy diere vermis geraak het of terugestuur is omdat sy papiere nie reg was nie. Hy het gesê Oupa moes lughawe toe kom sodat hulle alles kon bespreek en ook ‘n groter hok uitsoek waarin ek meer gemaklik sou wees. Daaroor was ek baie dankbaar want ek het nie kans gesien om 24 uur in my ou klein groen hokkie te sit nie, hulle het hom oorpronklik gekies om klein genoeg te wees sodat ek by hulle voete kon sit toe ons Wien toe gevlieg het.

 

            Oupa sit toe af lughawe toe maar nou nie na die mooi terminaal waar die mense heen gaan nie, nee na die vragafdeling toe. Hy het later vir ons vertel dit was ‘n nagmerrie – groot skure met honderde vragmotors wat goed oplaai en aflaai en jou sommer uit die pad ry en die hele plek lyk soos ‘n doolhof met nêrens plek om te parkeer nie. Hy het nie die vaagste benul gehad waar om Herr Bogner te kry nie. Daar was ‘n motor agter hom wat wou verbykom en hy trek toe maar af en laat hom verbygaan en stuur maar ‘n skietgebedjie op. Hy besluit toe om maar agter die motor aan te ry want miskien het hy geweet waar daar parkeerplek was. Dit was toe so en hy trek langs die motor in by ‘n parkeerplek. Wat was sy verbasing groot toe hy sien wie klim uit – ‘n jong Oostenryker wat net kort tevore by die Ambassade begin werk het. Het het die diplomatieke possak kom haal. Oupa kla toe oor die deurmekaar plek en dat hy nie weet waar om Herr Bogner te soek nie. Wat dink jy sê die man toe vir hom? Hy het vyftien jaar by die vragafdeling gewerk en weet presies waar dit is en hy lei Oupa deur die doolhof van pakskure en kantore tot by Herr Bogner en nadat Oupa daar klaar was, het hy hom al die pad weer terug na sy Passat begelei. Dit wys jou net gebed werk, al is dit net ‘n skietgebed.

 

            Oupa was toe heel beïndruk met Herr Bogner – hy was die ene vriendelikheid en het vir Oupa na sy pakkamer geneem om ‘n hok uit te soek en aanbeveel dat Oupa ‘n groot hok neem sodat ek lekker kon ry – die skelm! Ons sou dit eers later uitvind dat ‘n mens nie betaal vir hoe swaar die hond en sy hok is nie maar vir hoe groot dit is - hoe groter die hok, hoe meer betaal jy. Kan jy glo Oupa moes EUR1000 (dis omtrent R10 000) betaal om my in Suid-Afrika te kry. Wat ‘n skande, maar wat ‘n bewys hoe lief hulle vir my is!

           

             Herr Bogner het vir Oupa vertel hoe deeglik hy sy werk doen en vir hom dokumente gewys dat hy selfs kort tevore ‘n “ant-bear”, dis nou ‘n erdvark, suksesvol ingevoer het. Hy het ook vertel dat ek oor Frankfurt sou vlieg waar ek die vliegtuig na Suid-Afrika sou kry en dat Frankfurt die beste troeteldiergeriewe in die hele wêreld het. Hy het Oupa verder gerus gestel deur vir hom te vertel dat die diere nie sommer saam met die tasse vlieg nie maar in ‘n aparte gedeelte wat spesiaal verhit word. Oupa is toe baie meer tevrede huis toe en het ons alles vertel. Ek moet sê ek was toe ‘n bietjie meer gerus – het ek tog maar geweet!

 

            Toe moes ons in Wien na die staatsveaarts by Wagner Platz gaan om al die papiere reg te kry. Ek het my reggemaak vir ‘n deeglike ondersoek maar watwou, die ou dik veearts het lekker met die Oumense gesêls terwyl hy een na die ander papier stempel maar het nie eers in my rigting gekyk nie. Ek was baie verontwaardig. Wat beteken al die permitte dan – dis net ‘n geldmakery.

 

Die Baron Vlieg nie meer Besigheidsklas nie

            Uiteindelik het dag toe aangebreek. Die mense het al ons huisgoed toe al ingepak in die houer wat na Suid-Afrika sou gaan en ons het net met Mbeki se sitkamermeubels en die beddens agtergebly met so ‘n paar geleende potte en panne en die tasse wat klaar gepak was. Oupa het tot op die laaste sy motor gehou voordat hy hom aan die garage teruggegee het.

           

            Dit was ‘n koue, reënerige en winderige dag toe ek lughawe toe geneem is. Ouma het nie kans gsien om saam te gaan nie, haar oë was rooi gehuil – sy het seker gedink sy sien my nooit weer nie. Ek het ook maar ‘n knop in my keel gehad – baie benoud vir die onbekende. Gelukkig het Tannie Fransie en Oom Schalk saam met Oupa gery want hulle wou sien waar Herr Bogner se kantoor was. Snuffie en Terrie sou nie lank na my nie ook moes teruggaan huis toe.

 

            Oupa het ‘n spesiale kennisgewing op my hok, op twee plekke, opgeplak:

 
       My name is Rufus and I am 12 years old. I am         lonely and stressed,  please be kind to me.
 

            Net buite Herr Bogner se gebou is daar ‘n klein grasperkie met ‘n boom of twee. Oupa het my daarheen gedra en gesê ek moet ‘n lang draai loop want ek sou nie gou weer die kans kry nie. Ten spyte van die nat gras en die koue wind het ek maar benoud gedoen wat gevra is en is daarna in my nuwe hok na Herr Bogner se kantoor gedra en al my dokumente en sertifikate is oorhandig. Ek wou nog totsiens sê vir Oupa en die Potgieters maar Herr Bogner het my met hok en al gegryp en in ‘n donker kamer gaan sit – die laaste wat ek my mense vir ‘n hele ruk gesien het. Ek kon hulle net so vêrweg hoor praat. My hart het so benoud in my keel geklop dat ek omtrent niks anders  kon hoor nie.

            Toe my oë aan die donker gewoond geraak het, kon ek sien daar is ook ander hokke in die donker kamer. In die een kon ek die sagte gemiaau van ‘n kat hoor, in die hok langs my was daar ‘n baie groot hond en in die ander een was daar iets wat sulke snorkgeluide gemaak het – wat dit was kon ek nie agterkom nie. Ek het nie baie van die donker kamer gehou nie. Jy weet mos dat as ek iets wil hê, dan blaf ek en ek wou vir Herr Bogner sê om die lig aan te sit. Hy het kwaad die deur oopgemaak en geskreeu “Halt die Klappe” – dis nou iets soos “Hou jou bek!” Ek het my lam geskrik en toe maar stil gebly.

 

             Naderhand het hulle die hokke kom haal, ons op ‘n trollie gelaai en agter ‘n trekkertjie gehaak wat met ‘n groot spoed deur die pakhuise gejaag het tot by ‘n vliegtuig. Ek het maar net gehoop my hok val nie af nie sodat ek langs die pad bly lê met niemand wat weet waarheen ek op pad was nie. Hulle het ons redelik hardhandig by die vliegtuig se pens ingelaai tussen sulke groot blink houers, kratte en tasse – ‘n redelike lawaai en gewerkskaf. Ek het maar net teruggedink hoe rustig ek voorheen in besigheidsklas gevlieg het, nou was ek sommer maar net ‘n stuk vrag. Dit doen nogal iets aan ‘n hond se gevoel van eiewaarde.

 

            Gelukkig was dit darem droog en warm in die vliegtuig se pens na die rit op die trollie in die koue wind en reën. Ek het maar op my kombersie in die hok gaan lê en vir myself gesê: “Rufus, vandag moet jy maar net geduldig wees en probeer om kalm te bly.” My bure was maar stil, hulle was seker maar ook bang en onseker.

 

            Na ‘n ruk is die deur toegemaak en toe was dit pikdonker in die vliegtuig – dis mos nie nodig om ligte vir die vrag en die tasse te laat brand nie. Die vliegtuig het begin beweeg en naderhand kon ek voel hoe ons versnel om op te styg. Maar die lawaai! In die kajuit waar die mense sit, is daar spesiale klankdemping om die vliegtuig se geraas sagter te maak maar daar waar ons gesit het, was daar nie so iets nie. My ore het behoorlik getuit. In Europa styg die vliegtuie baie vinnig en steil op. Gelukkig was my hok vasgemaak maar ek het agter in die hoek van die hok beland en moes maar daar lê todat die vliegtuig sy vlughoogte bereik het. Glad nie lekker nie! Ai, ek het so gewens ek kon darem net Wien vir oulaas bo vanuit die lug sien.


Lufthansa Boeing 747

            Die vlug na Frankfurt was gelukkig nie lank nie en ek het uitgesien na wat Herr Bogner beskryf het as die beste troeteldiergeriewe in die wêreld. Ek het so in my gedagte groen grasperke en mooi bome met  blink bakke water gesien met die vooruitsig dat ek ‘n bietjie my ou bene sou kon rek. Eindelik het ons geland, maar ‘n stamperige en lawaaierige affêre.

 

            Ek sou jou graag wou vertel van die “beste troeteldiergeriewe in die wêreld” op Frankfurt se lughawe maar ongelukkig het ek niks daarvan gesien nie! Ek en my maats is maar net eenkant by mekaar in ‘n skuur neergesit en van die groen gras, mooi bome en blink waterbakke het niks gekom nie. Daar het ons toe gesit in ons hokke tot laat die aand toe ons op die vliegtuig na Suid-Afrika gelaai is. ‘n Gedagte wat my baie vertroos het, was om te weet die Oumense sit iewers bokant my in dieselfde vliegtuig.

 

            Terwyl ons so op Frankfurt se lughawe gesit en wag het, het ek kennis gemaak met my reisgenote. Dit was ‘n kat met die naam Snoekie op pad terug na Suid-Afrika en ‘n enorme Deense hond (omtrent vyf hondeverdiepings hoog) met die naam Magnus. Die ou wat sulke snorkgeluide gemaak het was toe al die tyd ‘n erdvark – kan jy dit glo. Snoekie en Magnus het albei kalmeerpille ingehad en was maar deurmekaar maar ek en ou Errie (soos ek hom genoem het) het lekker gesels. Maar wat ‘n storie vertel hy my toe!

 

            Ek onthou hou Oupa vertel het dat Herr Bogner gespog het dat hy ‘n rukkie gelede ‘n “ant-bear” ingevoer het. Dit was toe al die tyd ou Errie! ‘n Diertuin, wat hulle die Safaripark, noem, het hom ingevoer vir hulle Afrika-afdeling om saam met die Zebras, Wildebeeste en Volstruise uitgestal te word. Die bestuurder  by Gänserndorf waar die Safaripark is, ken nie Afrika diere nie en toe hy die sertifikate bekyk, gedink ou Errie is van die beer-familie (omdat hy as ‘n ant-bear aangegee is) en was heel tevrede met die sertifikate. Maar hy wou toe graag sien hoe die snaakse dier lyk en toe hy hom sien, toe sê hy: “Dis dan ‘n vark!” Hy kyk toe op in sy boeke en sien ‘n ander naam wat in Engels gebruik word is ‘n “aardvark”. Dit was genoeg vir hom. Het onmiddellik met ‘n groot rooi stempel al die sertifikate gemerk en opdrag gegee dat ou Errie teruggestuur moet word.

 
V     E     R     B     O     T     E     N
  Die rede? Errie was in sy oë ‘n vark en hy was nie vir Afrika-varkpes ingeënt nie. Errie was baie verontwaardig want hy het homself nie as lid van die vark-familie beskou nie en het dit as ‘n belediging beskou. Maar hoe bring hy dit nou aan ‘n onkundige burokraat se verstand? Intussen het hy omtrent doodgegaan van die honger want hy wou miere en termiete hê om te eet en die klomp dom mense het net gras in sy hok gesit – verbeel jou! Nou was hy op pad terug na Suid-Afrika en kon nie wag om die regte kos te kry nie – jy kon sommer hoor hoe gor sy maag van die honger. 

            Die vlug huis toe was toe maar ‘n herhaling van die vlug van Wien na Frankfurt – net omtrent 10 keer langer! Ek en my maats het maar in die donker pens van die vliegtuig probeer om te probeer slaap tussen al die lawaai. Ek kon so nou en dan vir ou Errie hoor yl “miere” en dan weer  “papiere” – seker maar soos hy gedroom het.

 

            Errie se storie het my ‘n nuwe ding gegee om oor bekommerd te wees. Sê nou my papiere is nie reg nie, of raak weg, en hulle stuur my terug Wien toe! Wat sal van my word want die Oumense sal dan in Pretoria wees? Almal weet wat munisipaliteite met ongewenste honde doen!

 

            Na ‘n onrustige nag wat oneindig lank gevoel het, het ons uiteindelik geland en nadat die vliegtuig stilgehou het, is ons sonder seremonie agter in ‘n vragmotor gelaai en na die Lufthansa vragafdeling geneem wat ver van die mense se aankomssaal is. By die vragafdeling aangekom (net so vuil, deurmekaar en raserig soos in Wien) het ‘n veearts na my papiere gekyk, my een kyk gegee - seker om te sien of ek darem nog lewe – en gelukkig die papiere gestempel. Man, was ek verlig!

 

            Na ‘n hele ruk het ek bekende stemme gehoor wat gevra het of ek aangekom het, Oupa en Lilla! Ek het opgewonde geblaf maar hulle moes toe eers gaan betaal (alweer) en by die Ontvanger van Inkomste die papiere laat stempel in ‘n ander gebou. Na ‘n ruk het hulle darem teruggekom en my kom haal. Op die naaste grasperk het hulle my uitgehaal sodat ek ‘n draai kon loop en ‘n groot klomp water kon drink – ai, dit was lekker.  Toe ek buite die hok was, het ek gesien hoe verblindend helder die son was en dit was lekker warm – so anders as toe ek weg is in Wien. Dit was lekker om terug te wees maar ek wonder wat het van my nuwe vriend ou Errie geword? Miskien was iemand goed vir hom en loop hy vandag lekker in die Bosveld rond – ek hoop maar so!

 

            Lilla het ons toe Farmside toe geneem – Ouma was saam met Kobie al klaar op pad. Twee motors was nodig vir al die bagasie en my hok ook nog. Ai, maar was dit lekker om weer terug te wees by Farmside! Ek het onmiddellik eers al die ou bekende plekkies in die tuin deurgesnuffel en die son was te heerlik. Baie mense het ons kom groet en die Oumense het elke keer net vertel hoe bekommerd hulle oor my was en gesê kyk hoe goed lyk ek. Dis darem lekker om te weet jou mense is so lief vir jou.

Ons bou en breek

            Toe al die opgewondenheid van by die huis aankom ‘n bietjie oor was, het ek agtergekom die huis was eintlik leeg – net ‘n bed, eetkamertafel en –stoele en ‘n klein yskassie wat Erich-hulle vir ons geleen het. Verder was daar niks.

 

            Ek skaars was ons by die huis of daar daag ‘n Oom met werkers op. Hulle het dadelik die matte uitgepluk, die kaste afgebreek en al die teëls in die twee badkamers begin afkap – wat ‘n gemors, ek het in my lewe nog nooit soveel stof gesien nie. Die Oumense moes omtrent elke nag in ‘n ander kamer slaap, partykeer met die matras sommer op die vloer. Party dae as die werkers so stof gemaak het in die huis, het hulle buitekant onder die boom in die koelte gesit. Die arme boom het so hard gewerk om koelte te maak, want dit was in die middel van die somer, dat hy sommer eendag binne ‘n paar dae doodgegaan het. Ek het die Oumense maar jammer gekry en vir myself was dit ook maar swaar want omtrent elke dag was daar nog ‘n span nuwe werkers – Oupa het hulle sommer Impi’s genoem. Eendag was daar vyf verskillende Impi’s doenig, in die huis en in die tuin.

 

            Nou moet ek jou ‘n geheim vertel. Een ding wat vir my lekker was, was dat Oupa die spieëls wat hy uit die klerekaste gehaal het, sommer op die vloer teen die muur gesit het. Nou sal jy miskien dink dis ydel, maar ek het kort-kort in die geheim weggesluip en vir myself in die spieël gaan kyk. Dink jy dit is snaaks? Jy moet onthou dat honde nie spieëls het nie en omdat ons Worshonde so laag is, kon ek myself nooit in die Oumense se spieëls sien nie – die goed is moes daar hoog in die lug vir mense opgesit. Daarom het ek altyd gewonder hoe lyk ek nou eintlik! Die werkers wat die teëls in die badkamer ingesit het, het my altyd so snaaks aangekyk as ek vir myself gaan kyk het maar ek het my nie aan hulle gesteur nie. Al moet ek dit nou self sê, het ek gedink dat ek nogal ‘n mooi Worshond was, veral op my hoë ouderdom!

 

            Die enigste twee werkers wat heeltyd hier was, was Freddie en Abraham – die bouer Oom het hom sommer Malkoppie genoem. Etenstyd het hy altyd onder die boom gesit en slaap met sy mond wat so groot oophang dat sy ken omtrent op sy bors gehang het. Ek het een of twee keer geblaf om vir hom te waarsku dat dit somer en vlieëtyd was – maar hy het so vas geslaap dat hy my nie eers gehoor het nie. Maar as die Bouer-Oom die hek se klokkie gelui het, was Malkoppie soos ‘n pyl uit ‘n boog tot bo-op die hoogste leer. Hy was ‘n snaakse kêrel en het ‘n selfoon gehad met ‘n lui soos ‘n “wolf whistle” – jy weet mos fwiet-fwieu – en het altyd sy oproepe ontvang as hy heel bo-op die leer was, miskien was die ontvangs daar beter want die ou foon het maar gehawend gelyk. Eendag het hy vir Oupa seep gevra want hy wou sy selfoon was!!


Vrolike Taryn

            Gelukkig het die bouersvakansie aangbreek en het ons ‘n bietjie vrede vir ‘n paar dae gehad, totdat hulle ons meubels en ander goed wat in die pakhuis gestoor was hier aangebring het – toe was dit weer die groot uitpak. Die Oumense was baie ongelukkig oor ‘n hele klomp van hulle goed wat die mense beskadig het of sommer net vernietig het – geen respek vir anderman se goed nie! Nie lank daarna nie, het ons goed uit Wien ook hier aangekom. Dit was so goed deur die Wieners verpak dat nie eers een ou dingetjie gebreek was nie ten spyte van die derduisende kilometers se reis per spoor, per pad en met die skip. Oupa het gesê: “Dit wys jou nou net!” Ek het saamgestem al was ek nie so seker wat hy presies bedoel het nie. Maar dit was darem lekker om al die bekende ou goed weer om jou te hê en die huis het weer gelyk of iemand darem hier woon.

 

            Maar ek moet sê, dit was maar ‘n baie stresvolle tyd. Een oggend toe ek wakker word by die Oumense in die bed, was daar sulke fyn bloedspatseltjies op die laken. Hulle het baie geskrik en my dadelik na die veearts geneem. In vergelyking met dr Krempl se plek in Wien, het die veearts se plek meer soos ‘n Schloss gelyk met aparte wagkamers vir mense met honde en dié met katte. Net een van die wagkamers was groter as Dr Krempel se hele praktyk – ek dink sy mond sal oopphang as hy dit moet sien. Daar was ook sommer drie veeartse. Ek wonder wat sou ou dr Krempl sê as hy dit moet weet?

 

            Die veearts het my toe goed ondersoek en ook my temperatuur gemeet met ‘n ding wat Oupa ‘n gatsometer noem. Ek dink dis maar net ‘n termometer. Kan jy glo, ek het toe al die tyd ‘n maagseer gehad van al die stres! Toe die veearts my medisyne gee, sê Oupa, dis dan mensmedisyne, hy het dieselfde medisyne al gedrink. Die veearts se antwoord was: “Op wie dink jy toets hulle al die medisyne voordat hulle dit vir mense gee?” Dit laat ‘n hond dink oor ons belangrike plek in die samelewing. Gelukkig het die medisyne goed gewerk en ek was gou beter.

 

Rufus/image270.jpg

Hulle ry alweer oorsee en ek is amper in my peetjie

            Nie lank daarna nie, hoor ek hoe die Oumense praat dat hulle vir Elma-hulle wil gaan kuier in Australië want hulle het mos nou Ozzies geword. Maar eintlik wou hulle graag die nuwe kleinkind Taryn sien – as jy my vra! Van foto’s van haar wat ek op Oupa se rekenaarskerm gesien het, het sy vir my nogal na ‘n oulike ou dingetjie gelyk. Ek is maar net baie hartseer omdat ek haar waarskynlik nooit sal ontmoet nie.

Rufus/image272.jpg
Possums

            Ek hoor Lilla en Elma noem vir Taryn klein Possum en toe ek op Oupa se foto’s sien hoe ‘n oulike ou diertjie dit is, kan ek ook nou saamstem!

             Ek het maar min geweet van Australië, net dat die mense sê dis “daaronder” en dat daar kangeroes en ander snaakse diere is wat almal hulle kleintjies in sakkies dra – g’n mens weet hoekom nie, is hulle dan bang die goedjies raak weg? Ek het ook al baie gewonder dat as Australië daar onder is, hoekom loop al die see se water nie soontoe nie? Maar ek het genoeg gehad van vliegtuie en was maar bly om te hoor ek moes nie saamgaan nie en dat ek by sus Griet en ou Erdmannetjie gaan bly. Ek was minder gelukkig met die katte Thomas en met Issie – sy het my eendag by Farmside  geklap dat ek gerol het. Thomas het nou wel uit Sunnyside se “gutters” gekom maar hy het ‘n redelik beskaafde kat geword maar ou dik Issie was ‘n onbekende faktor.

 

            As ek maar geweet het hoe lank die Oumense weg sou wees, sou ek vooraf dinge beplan het. Maar hulle het my nie gesê nie en dit het gelyk of hulle nooit gaan terugkom nie. Ek het naderhand gewonder of hulle nie dalk al terug was en net van my vergeet het nie. Ek het so na hulle verlang. Eendag toe Grace by Lilla-hulle gewerk het, het sy die hek oopgelos en ek het my kans gesien. Ek het die pad gevat na Farmside toe. Nou moet ek sê, ek het nie die pad mooi geken nie en omdat my ou oë nie meer so goed is nie, kon ek nie die straatname so mooi sien nie. Ek was gou, sal ek maar sê, ‘n bietjie verdwaal en het al hoe benouder geword. Sê nou ek kry die pad nie en sê nou die Oumense is nie eers by die huis nie!  Toe ek op my benoudste was, hou daar skielik ‘n sekuriteitsman op ‘n bromponie by my stil en sê: “Hondjie, jy lyk vir my of jy verdwaal is.” Ek wou my nogal vervies vir die “hondjie” – weet die man nie ek was amper ‘n baron nie? Maar ek was maar te dankbaar en met my onder sy arm vasgeknyp, is ons tot by die beheerkamer waar ‘n vriendelike ou Omie na my gekyk het en my van sy toebroodjies gegee het.

             Ek het eers later gehoor van die wonderlike manier wat Lilla-hulle my weer in die hande gekry het want niemand het geweet waar ek was nie.  Ben het na Lilla se huis toe gebel om ‘n faks te stuur en toe by Grace uitgekom. Sy vertel hom toe dat ek weg- geloop het. Hy het dadelik vir Lilla op haar selfoon gebel en sy vir Armand. Hy het alles by sy belangrike werk gelos en huis toe gejaag om na my te soek. In die straat kry hy toe die sekuriteitsman en vra hom of hy nie ‘n Worshond gesien het nie. Die man sê  ja die hond sit in hulle beheerkamer. Armand het my dadelik gaan haal en ek moet eerlik wees – ek was baaaie bly dat hy my gekry het. Ek het later nagmerries gekry as ek gedink het hoe ek oor die besige Hans Strijdomweg sou moes gehardloop het  met al die motors wat kon my doodgery het – maar ek het so na die Oumense verlang!

 

‘n Wollerige, Waaistert Worshond

            Nadat die Oumense teruggekom het, lees Oupa eendag die koerant advertensies en ek hoor hy roep vir Ouma. “Wil jy nie graag ‘n Langhaarwors hê nie?” sê hy “’n Mens kan een verniet kry.” Ouma het omtrent oor haar voete geval op pad na die telefoon toe, iets waarvan ek nie juis gehou het nie – was ek dan nie goed genoeg nie?

 

            Daar was ‘n heel-en-weer gebellery en nie lank daarna nie, daag daar ‘n jong man op met ‘n Langhaarwors, sy kombers en kos vir ‘n week. Ek was ‘n bietjie vies – ek moet eerlik wees want hy was nogal ‘n mooi Wors en ek kon al klaar sien hoe kry hy meer aandag as ek. Ek het laas van sy soort Worshonde in Wien gesien, soos die klein flerrie wat my eenkeer in die Weense Woud bestorm het. Toe die jong man gery het, het hy Ouma om die nek geval en baie gehuil. Ek het gewonder wat gaan aan.

 

            My viesheid het gou verdwyn toe ek die nuwe Wors – sy naam was Remus – se storie gehoor het. Remus het by die jong man se Ma gewoon en sy het baie siek geword. Hy het haar opgepas tot sy naderhand aan die siekte dood was. Hy moes teruggaan Kaap toe waar hy werk en kon nie vir Remus na sy woonstel saamneem nie. Dis hoekom hy ‘n nuwe huis vir Remus gesoek het. Ek het hom jammer gekry omdat hy jonk was en ook al swaar gekry het en ons het gou maats geword al is hy so ‘n bietjie van ’n hanswors! As die Oumense nou winkel toe gaan, is ek darem nie meer so alleen nie. Saam kan ons die huis beter oppas want ek hoor en  sien nie meer so mooi nie, Remus het my oë en ore geword en partykeer as ek so voel, my stoeimaat!

In die Vertreksaal

 

            As ‘n mens jonk is, is jou lewe elke dag so vol met nuwe ervarings en ondervindings dat jy nie juis dink aan jou oudag nie. Dis soos wanneer jy aankom by ‘n lughawe in ‘n nuwe en opwindende land wat net wag om ontdek te word. Maar nou dat ek by my oudag uitgekom het, ouer as wat baie mense word, is dit vir my of ek weer opnuut in die vertreksaal van die lughawe wag. Hierdie keer wag ek om finaal te vertrek na ‘n bestemming wat vir my vreemd is – nog vreemder as Wien ‘n paar jaar gelede. Ek hoop maar net ek gaan my liewe Ma Katryn en my ou Boetie Plesier daar kry en dat Ouma eendag daar sal opdaag om ons te kom oppas soos sy graag wil doen. Intussen geniet ek die Oumense se liefde en versorging, luister na mooi klassieke musiek  en kyk terug oor my veelbewoë lewe met baie dankbaarheid.

Gaan trug na die begin Deel Vier van Rufus

Click on the buttons below for other pages

Looking in to the small

Magical ideas for future dreams

the energetics of life

ethics in harmony

Dream again extreme

 .

.

 .

Aura de vida cosmica

The worlds of the micro y macro cosm

My view of space 25jrs ago

Smell the aroma of life

Dreams for a perfect world